Monday, October 22, 2007

DIE KOESTERING VAN MENSWAARDIGHEID DEUR AANBIDDING


Klippies Kritzinger is professor in Sendingwetenskap aan die Universiteit van Suid Afrika en leraar van die Verenigende Gereformeerde Kerk Melodi ya Tshwane.

1. Inleiding

Daar is baie goeie en belangrike dinge wat Christene in weerlose (vulnerable) gemeenskappe kan (en moet) doen. Een daarvan is om die lewende God te aanbid en weerlose mense in hulle aanbidding in te nooi.

Twee uiterstes om te vermy:
a) Aktivisties (Hoekendijk: Kerk binneste buite) Hiervolgens het die institusionele kerk nie werklik bestaansreg nie, maar moet die kerk ast’ware in die wêreld opgaan en daár arbei omdat die “akker van die Gees” hiér te vind is.
b) Monasties (onttrekking)

‘n Baie meer gebalanseerde benadering kan verstaan word na aanleiding van die sg. Praxis-siklus.
Inkarnasie
Onder Inkarnasie verstaan ons die intreepunt asook die wyse van intreede in ‘n spesifieke gemeenskap
Konteksanalise
Die konteks word nou deeglik geanaliseer
Teologiese refleksie
Daar word nou vanuit die Skrif teologies gereflekteer oor beide die konteks sowel as die moontlike aanbieding.
Aanbidding
Tydens hierdie fase van die sirkel word die evangelie aangebied. Meer spesifiek kan ons hier praat van aanbidding waarby ons mense van die gemeenskap wil laat deel in ons aanbidding.
Beplanning
Herbeplanning vind plaas en die hele proses herhaal.

Tydens hierdie proses moet daar ook gewaak word teen ons geneigdheid om kortpaaie te soek. Heel dikwels wil ons met vooropgestelde idees teologiese reflekteer sonder om onsself te wil blootstel om in die gemeenskap of situasie in te assimileer. Dit lei tot allerlei kortsluitings in die proses.

Aanbidding is 'n integrale deel van die kerk se lewe:
a) as vertrekpunt (launching pad) vir sending/diens/aktivisme
b) as deel van die kerk se sending self (werwende, trekkende aard van aanbidding.

2. Koestering
Volgens Augustinus se definisie behoort die kerk as die moeder van die gelowiges verstaan behoort te word. Die woord koestering (“Nurture”) herinner ons aan die teer werk van ‘n moederlike of ‘n ouer. Dit is ‘n tydsame werk. Mense wat iewers in die lewe seergekry het - en wat daardeur weerloos (vulnerable) geword het – kan nie reggepluk of reggetik word nie. Wonde genees nie vinnig nie. Dit kan nie aangejaag of geforseer word nie. Mense wie se menswaardigheid aangetas en ontken is, het tyd en spasie nodig om hulleself weer te vind en te bemagtig. In aanbidding word daar sodanige spasie geskep vir genesing en as Christene word ons opgeroep om hierdie aanbidding in die hart van weerlose gemeenskappe te vestig om sodoende 'n genesende effek op benadeelde mense te hê. Die kosbaarheid en potensiaal van hierdie tyd word in die bekende Sotho lied, Modimo o re file sebakanyane se le motsotsonyana o (“God gee ons net ‘n kort tydjie op aarde – ‘n minuut”) weergegee.

3. Menswaardigheid
Menswaardigheid het in die eerste plek te doen met ons verstaan (al dan nie) van die mens as “Beeld van God”. Hierdie teologiese moment is een van die mees onderbeklemtoonde aspekte van ons Christelike geloof in gereformeerde liturgieë en moontlik in ander tradisies ook. Trouens, die effek wat ons preke en liturgieë gewoonlik op mense het, is om hulle te laat verstaan dat hulle in die eerste plek sondaars is. Vergeefde sondaar miskien, maar wel sondaars.

In Melodi ya Tshwane volg ons die tradisionele vloei van die geroformeerde liturgie, maar ons voeg ook ‘n element by waarin ons, ons waardigheid as “Beeld van God” teenoor mekaar verklaar:
“I stand tall and dignified before God and among my sisters and brothers. I accept myself as a precious and unique person, because I am created in the image of the living God. Together we discover who we are, as a family: Motho ke motho ka batho.”
Ons verklaar dus dat ons, ons menswaardigheid ontdek en ontgin in gemeenskap met mekaar en met ons Here.

‘n Uitbreiding op hierdie weeklikse liturgiese oomblik is dit ook nodig om ons feeste te herontdek as verlossingsfeeste. Dit is ook noodsaaklik om ‘n spesifieke Seisoen van die Skepping daar te stel (September-Oktober) om ons menswees in te bed in die waardering van die Skepping – nog ‘n afgeskeepde element in ons gereformeerde teologie. By ‘n onlangse vergadering van NECCSA is besluit om 2008 uit te roep as ‘n jaar waarin ons die bewaring van ons aarde sal deelmaak van ons Christelike aanbiddingsgeleenthede.

Musiek en dans moet sterker figureer in hierdie helingsgeleenthede soos so pragtig uitgebeeld word in die Sweedse film “As it is in Heaven” (Kay Pollak). Die ZCC se gebruik van musiek en ritme tydens aanbiddingsgeleenthede wys die terapeutiese moontlikhede baie sterk uit.

4. Bekering
Bekering word verstaan as “omdraai”, maar hierdie aksie veronderstel dat die mens reeds staan. Miskien is dit ‘n luukse verstaan van bekering in sekere kontekse. Bekering kan en moet ook verstaan word as “opstaan” (Vuka!) Hierdie verstaan van bekering figureer heel dikwels in die evangelies waar iemand eers moet opstaan en direk daarna volg die oproep om “om te draai”. Dit sou ook heel dikwels die eerste woord van die evangelie moet wees in onderdrukte, weerlose gemeenskappe en dan daarna, “Draai om!”

En tog is dit nog steeds nie radikaal genoeg nie. Die eerste woord van die evangelie is nooit 'n imperatief nie; dis 'n indikatief. Dit verkondig wat God gedoen het ... en aanhou doen... Genade alleen. God het JOU lief. God het elke persoon in die wereld so lief dat .... Dit kan maklik leë woorde word, veral as my hele bestaan en lyding dit ontken en onwaar maak. Maar ons bediening en aanbidding moet daarvoor ruimte maak.

5. Nagmaal
Nagmaal is die hart van ons Christelike aanbidding. Volgens Calvyn moes Nagmaal elke week gevier word. Die vorm van bediening moet ook nie wees as “’n sit-en-bedien”-affair nie. Veel eerder moet dit deel vorm van ons “uitbeweeg” en na vorentoe “beweeg”.
5.1 Die Lewe is ‘n Reis
Die Emmaus-model vertel iets van hierdie aanbiddende reis waarin die volgende elemente van die erediens ontdek word:
a) ‘n Ruimte om te praat oor jou probleme; 'n pastorale oor wat hoor en saamstap;
b) ‘n Relevante gefokuste uitleg van die Bybel (harte “warm” preek);
c) ‘n Gebed om Jesus binne te nooi;
d) Die “breek van die brood”; en
e) Die voortvloei die wêreld in (getuienis, opwinding, sending, gestuurdheid (terug na Jerusalem, die donker in).

5.2 Die Lewe is ‘n Fees (“party”)
Die Saggeus-model lê weer klem op die feestelikheid van ons aanbiddende samesyn. Jesus word ‘n “vriend van tollenaars en sondaars” genoem asook “’n vraat en ‘n wynsuiper”. Alhoewel hierdie kwetsende taal ons heel waarskynlik meer vertel van dié wat dit geuiter het as van Jesus, lê dit tog klem op die feit dat feestelikheid ‘n groot deel uitgemaak het van Jesus se saamwees met ander mense. Nagmaal moet dus nie net verstaan word as ‘n terugkyk na Jesus se laaste maaltyd op aarde nie; dit kyk veel eerder terug na al Jesus se maaltye met sy dissipels. Crossan se idee van die nagmaal as “radical commensality” waarvolgens Jesus se tafelgemeenskap oop was bied aan ons ook ‘n totaal nuwe moontlikhede om die nagmaal te verstaan as ‘n genesingsmoment.

Volgens Primavesi is dit duidelik dat daar vir Jesus nie ‘n onderskeid was tussen “heilige” en “profane” kos nie. Alle kos is vir Jesus “heilig” omdat Hy telkens God dank voor elke gebruik daarvan. Hierdie “geseënde” kos word dan gedeel sonder diskriminasie van wie waardig is en wie nie. Almal is waardig presies omdat ons in onsself en in mekaar ons onwaardigheid herken en erken.
5.3 Die Lewe is ontmoetings / verhoudings
Wanneer Jesus met mense in aanraking kom, kry mens ‘n baie besliste gevoel dat Jesus se ontmoetings met mense gekenmerk word deur iets spesiaals. Dit dra die karakter van ‘n lewensveranderende ontmoeting. Volgens Miroslav Volf kan hierdie ontmoeting deur die metafoor “embrace” verstaan word. Hiervolgens “embrace” twee mense, wat uiteindelik twee verskillende mense is (en moet wees), maar in hulle omhelsing is hulle vir ‘n kort tydjie afhanklik van mekaar en klou hulle aan mekaar vir hulp en ondersteuning. Hierdie drama van “embrace” het 4 bewegings:
Die arms wat oopgaan (uitnodiging)
Die wag (geduldige wag vir die ander)
Die arms wat toemaak (ons vind mekaar)
Die arms wat oopgaan om te laat gaan (ons gun mekaar vryheid)
In hierdie ontmoeting is daar altyd ‘n element van risiko, maar die Christen word opgeroep om dit te waag om mekaar te help om hulle menswaardigheid te herstel, koester en genees.

No comments: