Monday, October 22, 2007

OM LEË MAE EN VOL BYBELSE WOORDE BYMEKAAR TE BRING

Ds Pieter Bosch is die Hoofbestuurder van MES. Sy vrou, Elise, is 'n bekende storie-verteller oor Hillbrow en is tans die Skakelbeampte.

Om oor die weerlose mense te praat is om by die hartklop van Jesus van Nasaret te wees. Ons kan nie kerk en Christen wees sonder om die weerlose mense ‘n missionêre prioriteit te maak nie. Die weerloses bied ‘n geleentheid aan die Christelike gemeenskap om daadwerklik ‘n Koninkryksbydrae te lewer en op hierdie wyse deel van die herstel van God se skepping te wees.

Die akroniem “H O P E” (Engels) kan as metodiek dien vir betrokkenheid by die weerlose mense:
“H O P E”:
• H = Hospitality
• O = Observing our stories
• P = Perseverance/ Patience/ Perceptions
• E = Equality
• Skep “HOPE” by weerlose mense sowel as Christene

1. “Hospitality”

Weerlose mense se hulpelose situasie maak hulle aanvanklik depressief, teleurgesteld, ontnugter en hulle voel en ís ook uitgelewer. Die Christelike gemeenskap behoort ‘n ruimte te skep waar herstel kan plaasvind. Die Christelike gemeenskap moet dus nie terugdeins vir die feit dat hierdie gemeenskap vir ‘n tyd soos pasiënte hanteer word nie. In so ‘n veilige ruimte sal hulle weer hul menswaardigheid ontdek en verantwoordelikeid vir hul situasie kan neem.
Die Christendom behoort himself af te vra of hy nie te gemaklik in ‘n “feel good” sindroom verval het met die klem op die individu en sy geluk nie? Daarom is dit noodsaaklik dat die Christelike gemeenskap opnuut hul onvoorwaardelik na die weerlose gemeenskap sal uitbuig. God se aard is immers sodanig en met die skepping het Hy hieraan uiting gegee. Indien die Christendom nie hierdie gesindheid navolg nie – immers duidelik in Jesus se optrede beliggaam – moet ingedagte gehou word dat een van die vernaamste redes vir Israel se ballingskap juis met die verwaarlosing van die wese, weduwee, vreemdeling, asook uitbuiting van die armes verband gehou het.
Jesus het nie geskroom om Hom met die lyding van hierdie wêreld te vereenselwig nie – Hy was immers in die lyding en verwag ook dat ons dieselfde sal doen; dat die Christelike gemeenskap sal gaan waar die lyding is. Daarmee saam moet die vraag gevra word waar die kerk die meeste van sy energie spandeer: na binne of na buite?
Die motiveringsbronne waaruit geput kan word in die hulpverlening aan die weerloses is veral medelye en die daarstel van ‘n gemeenskap waar hulle hul menswaardigheid kan terugvind. Waar hierdie ondersteuningsgemeenskappe daargestel word, is die ervaring dat weerlose individue daadwerklik God se vergiffenis in Christus ervaar en dat hierdie bepaalde ruimte wat vir hulle geskep word iets van ‘n tuiste asook aanvaarding daarstel.
Die Christelike gemeenskap is soms geneig om in ‘n vroomheidsteologie te verval met die klem op die “redding van mense se siele” – en dus vergeet dat die mens ‘n gees en liggaam het wat beide belangrik is. Jesus se verwysing na die evangelie wat vir die armes bedoel is, word ook te maklik vergeestelik (Lukas 6:20).
Christene moet ook hul eie leefstyl ondersoek vir moontlike die vereenvoudiging
daarvan. Talle weerlose mense is in ‘n situasie van armoede gebore en vind dit uiters moeilik om daaruit te kom. In ‘n sekere sin kan soms met Adam Small saamgestem word dat die dice vir talle bevoorregtes reg geval en die teendeel dus ook waar is. Die meerderheid inwoners van plakkershutte het dit immers nie gekies nie.

2. “Observing our stories”

Ter bevordering van verhoudinge en die daarstel van vertroue speel die wedersydse uitruil van lewensverhale ‘n vername rol. Die talle dimensies daarvan (onder andere stryd en lyding) moet gedeel word ten einde daadwerklik medelye te kan toon. Die weerloses se lewens tans en hoe hulle voorheen geleef het – ook die lewens van diegene op straat, moet gedeel word. Daar word dus nie oor die weerloses gepraat nie, maar met hulle en op sodanige vlak dat medemenslikheid tot uiting kom. Die geneigdheid om vanuit ‘n posisie van sterkte met die weerlose te kommunikeer moet so ver as moontlik vermy word. Daar behoort dus meer na die weerloses geluister te word en nie te kenne gegee word dat die oplossing vanuit die bevoorregte sektor kom nie.

3. “Perseverance/ Patience/ Perceptions”

Talle weerloses is sό deur die lewe uitgerangeer dat hulle maar net in ‘n oorlewingsindroom verval het. Hulle het nie veel krag oor om die lewe met sy uitdagings in die oog te kyk nie. Talle val maklik op die gewoontes terug wat hulle “coping skill” is, naamlik alkohol, dwelms, ens. Die Westerse suksesmodel is nie sondermeer toepaslik nie en verwagtinge moet afgeskaal word. Talle het nie die gerief van vier mure, ‘n motor, verwarming, ens. wat hulle teen die lewe kan beskerm nie.
Hulle is ook die ongemaklike mense wat ons as bevoorregter sektor in die gemeenskap maklik vermy – dié vir wie ons op die tande kners en vinnig verbystap. Betrokkenheid by hulle gee aan die Christelike gemeenskap egter geloofwaardigheid.
Die grootste gedeelte van die weerlose gemeenskap in Suid-Afrika kom immers uit die vorige bedeling wat hulle onderdruk het. Daarom bestaan ‘n breuk in die vertroue jeens veral die NG asook susterskerke. Talle persone in die voorheen bevoordeelde gemeentes wil steeds die mag behou en is bloot op oorlewing ingestel – dit voorspel egter ‘n stadige dood aangesien dit nie die gesindheid van die Christendom verteenwoordig nie.
Alle armes is immers ook nie kriminele nie en talle weerloses op die strate is Christene. Talle beskou ook die kerk as hulle laaste bastion teen totale magverlies.

4. “Equality as human beings”

Ons teologiese vertrekpunt behoort die skepping te wees: alle mense is na die beeld van God geskep. Diskriminasie mag nie deel van die Christen se woordeskat wees nie.
Ook die feit dat veral die NG kerk nie meer sy vorige magsbasis het nie, maak nuwe dinamieke tot dienslewering moontlik. Die voorheen bevoorregte sektor van die Christendom in Suid-Afrike staan voor talle uitdagings en moet bloot tot aksie oorgaan – daarvoor is die tyd al lankal ryp!

No comments: