Monday, October 22, 2007

PLEK EN ROL VAN GELOOFSGEBASEERDE ORGANISASIES

Ds Johan Krige is tans die Hoof Uitvoerende Beampte van MES (Metropolitaanse Evangeliese Sorg). Hierdie organisasie is tans die grootste Christelike Middestedelike Organisasie en is gestasioneer in Johannesburg.

1. Die belangrikheid van stories
Lewe is ‘n verweefdheid van stories wat mekaar beïnvloed. Daarom is elke storie belangrik. Ons bou egter mure om ons en besluit dat die enigste ware stories afspeel binne ons eie mure. Ons raak so gefokus op ons eie stories dat ons perspektief verloor en God se storie met Sy wêreld miskyk. As ons praat oor die rol van geloofsgebaseerde organisasies, moet die vraag uiteindelik gevra word: Het God nie dalk ‘n groter plan met organisasies soos ons, as wat onsself het nie?

2. Die storie wat my lewe verander het
‘n Storie wat my lewe en veral my bediening by MES ingrypend verander het, het ek raakgeloop toe ek in Londen na die musiekblyspel “Whistle down the Wind” gaan kyk het.
Die blyspel speel af in die vyftiger jare ná die Tweede Wêreldoorlog toe die VSA, soos die hele wêreld, besig was om weer die land op te bou ná die verwoesting van die oorlog. Daar was sekere plattelandse dele waar die mense baie swaar gekry het en waar armoede en ontbering aan die orde was. In dié tyd het die eerste snelweë hul verskyning gemaak. Dit het die groot stede met mekaar verbind, maar die arm plattelandse dele uitgesluit. Vir die jongmense in die dorpies het die snelweë ‘n simbool van hoop geword. As hulle net op ‘n snelweg kan kom en so een van die stede bereik, kan hul lewe verander.
Die kerke was baie betrokke by die armoede van die mense en het die boodskap uitgedra dat die mense hul armoede moet verdra, maar dat alles eendag in die hemel sal verander. Dan sal daar nie meer armoede wees nie. By een van die kerkdienste het ‘n jong meisie eendag opgespring en uitgeskreeu: “I need a man who knows what I’m really worth. I don’t give a damn about life after death, but I have to get some proof that there is some life after birth!”

3. Die Kerk se storie in die stad
Die Kerk in Johannesburg het sy eie storie wat ‘n impak op die storie van MES gehad het. Ek was deel van ‘n NG Kerk ring wat doelgerig een gemeente na die ander oor ‘n tydperk van 20 jaar gesluit het. Vandag bestaan daar reeds ongeveer 22 NG gemeentes nie meer nie. Die ring het nie baie opsies gehad nie. Gemeentes het stelselmatig gekrimp en kleiner geword. Die rede was natuurlik dat die Afrikaanssprekende blanke lidmate wegtrek uit dié dele van die stad. As gevolg van ons ideologiese raamwerk wat gegrond is op ons eertydse apartheidsdenke, het ons nooit raakgesien dat daar nog net soveel mense in dieselfde omgewing bly as voorheen nie. Dit verklaar hoekom daar gemeentes is wat gekrimp het totdat daar net 75 wit lidmate oor was. Ons apartheidsdenke was die direkte oorsaak dat die Kerk sukkel om te oorleef en baie moeilik ooit weer ‘n beduidende rolspeler op die kerklike terrein sal word.
Iets wat die kerk ook verleer het in die stad is om diensknegte te wees. Ons wou graag leiding neem met elke proses en in beheer wees. Dit was trouens die voorwaarde vir deelname aan enige proses. Die gevolg daarvan was dat ons al meer geïsoleer is.
Ons het ook nie betrokke geraak by die breë gemeenskappe nie. Trouens, die kerk het so eksklusief gemeentegerig gedink dat ons nie wou verstaan dat die laaste opdrag van die Here Jesus juis die gemeenskappe buite die kerk insluit nie.
Dominees het hulle roeping gesien as om herder van ‘n kudde te wees, d.w.s. ‘n dominee ter wille van die gemeente. Die herders het op die kraalmuur gesit en skape versorg. Soms is die hekke oopgemaak en die kudde beveel om uit te gaan. Min dominees het soos die herder van die Bybel (Johannes 10) vooruit gestap sodat die skape hom kan volg.
Daar was, en is, ‘n onvermoë om keuses te maak. Ek stel by geleentheid ‘n gemeente in kennis dat daar ‘n brand in ‘n plakkerskamp binne hul gemeentegrense ontstaan het. Mense het alles (van die min wat hulle gehad het) verloor en baie is beseer en getraumatiseer. MES het saam met Rampbestuur in die stad hulp gaan verleen en gevra of die gemeente sal kom help. Die kerkraad het laat weet hulle gaan glad nie betrokke raak nie, want netnou dink die plakkers hulle is goedgesind teenoor hulle.
Met die afbrand van die Drilsaal, die ou weermag hoofkwartier, waarin 1 000 plakkers geslaap het, het Rampbestuur ‘n versoek aan MES gerig om te help met die noodvestiging van 500 mense. Die kerkgebou van Irene is toe pas aan MES oorgedra. Ons het besluit om te help, en ek het gewonder wat die besluit sou wees as ‘n kerkraad die versoek sou ontvang.
Die kerk hou van nuwe idees. Vanuit ons rasionele akademiese raamwerk annekseer ons baie nuwe idees, teologiseer ons daaroor, kategoriseer en konseptualiseer ons, en uiteindelik liasseer ons dit. Ek was dikwels betrokke in die kerk om oor elke saak onder die son riglyne op te stel. Daarna is dit geliasseer.

4. MES se storie

4.1 Geskiedenis
Die MES storie wat in 1986 begin het, is ‘n merkwaardige verhaal van gewone lidmate van die NG Kerk met ‘n besondere visie en ‘n gewilligheid om vir die Here te werk. Wat die verhaal meer merkwaardig maak, is dat die organisasie in dieselfde omgewing waarin die kerk feitlik die aftog geblaas het, gegroei het. MES moes iets reg gedoen het wat die kerk dalk verkeerd gedoen het.

MES-Aksie het begin as ‘n aksie in die gemeente Johannesburg-Oos. Die naam sou wees “Middestad Sending en Evangelisasie Aksie”. By navraag aan die rolspelers destyds hoekom sending en evangelisasie in die naam ingesluit is, was die antwoord: Ons wou wit én swart mense bereik. Sending vir die swart mense en evangelisasie vir die wit mense. Dit onderstreep natuurlik die kerk se apartheidsdenke. Die naam het uiteindelik Metro Evangeliese Sorg geword. Ons wil op ‘n evangeliese wyse sorg vir mense, d.w.s. Woord en daad bediening.
Die fokus was gerig op die mense buite, en die aksie het van krag tot krag gegaan. MES-Aksie het in 1989 ‘n artikel 21 maatskappy geword en die organisasie het nie die tradisionele kerklike patroon gevolg nie. Spanning tussen die Kerk en MES was spoedig aan die orde. Die spiritualiteitsverskille binne-in die organisasie het natuurlik ook ‘n groot rol gespeel.

4.2 Holistiese benadering
Een van die sleutelontwikkelings by MES is dat ons al meer ‘n holistiese denkpatroon en daarmee saam ‘n holistiese werkswyse ontwikkel het. Mense moet nie net geestelik versorg word nie, maar hulle het ook fisiese, emosionele en intellektuele behoeftes. Die behoeftes moet vanuit die gemeenskap gedefinieer word. Hulle self bepaal die behoeftes, nie ons nie. Dit is dan ook die rede waarom MES amper ‘n eenstopdiens vir die gemeenskap in die middestad van Johannesburg geword het.

4.3 Deel van die gemeenskap
‘n Ander ontwikkeling in ons denkwyse het ook meegebring dat ons nie langer die begrip “opheffing” of “dienste lewer” gebruik het nie. Beide impliseer ‘n party in ‘n magsposisie wat uitdeel, en ‘n lydende party wat ontvang. Die problematiek met die denkwyse is dat die verhouding nooit verander nie. Ons het al meer begin praat van ontwikkeling van gemeenskappe waarin MES deel moes word van ‘n gemeenskap. Elke gemeenskap, hoe behoeftig en hoe ontwrig ook al, het seker bestaansbates en vaardighede. Min van ons het byvoorbeeld die oorlewingsvaardighede wat iemand het wat op straat leef. So kan ‘n gemeenskap gehelp word om self op te staan en te ontwikkel. ‘n Interessante voorbeeld hiervan is dat bykans 80% van MES se personeel van 160 mense, uit die gemeenskap kom.

Met ‘n visie om die hart van die stad te verander, het MES gegroei tot die grootste geloofsgebaseerde organisasie in die stad. Ons oortuiging is dat wanneer mense se harte, denke, vaardighede en omstandighede verander, hulle uiteindelik ‘n volhoubare en selfstandige lewe kan lei. In hierdie proses is die evangelie die onmisbare skakel.

5. Die Rol van MES in die stad

5.1 Visie en Missie
Die visie van MES is om die hart van die stad te verander. In sy missieverklaring sien MES homself as ‘n gemeenskapsgebaseerde Christelike organisasie wat aktiwiteite inisieer en fasiliteer om mense holisties te bemagtig tot selfstandigheid, volhoubaarheid en ‘n betekenisvolle lewe.

5.2 Kernwaardes
Die kernwaardes van MES is gegrond op Christelike beginsels met spesiale verwysing na:
• Liefde en omgee vir ons medemens
• Spreekbuis te wees vir geregtigheid
• Met integriteit en deursigtigheid op te tree
• Om uit te reik na alle mense ongeag ras, kultuur, godsdiens, geslag of seksuele oriëntering.

5.3 Omvang
MES het reeds 160 voltydse personeellede waarvan bykans 80% uit die gemeenskap self kom. Met ‘n begroting vir 2007/08 van bykans R16 miljoen en 13 geboue, het dit ‘n organisasie geword wat ‘n belangrike rol in die stad speel. Voeg daarby die feit dat MES drie jaar gelede ‘n selfstandige sustermaatskappy, Madulamoho gestig het, wat spesifiek op laekostebehuising gerig is, dan is dit duidelik dat die MES groep vorentoe ‘n beduidende rol in die stad kan speel. Madulamoho het reeds 7 geboue in plek en die huidige ontwikkeling se restourasie beloop ongeveer R36 miljoen. Dit word in samewerking met regeringsinstansies gedoen. Daarby is daar ‘n welsynsprogram van R4 miljoen, saam met die departement Maatskaplike Ontwikkeling, in plek. MES het ‘n vennootskap met Rampbestuur van Johannesburg om 72 uur noodbystand by alle rampe te verleen. Dit behels kos, klere, komberse en behuising vir ‘n tydperk van 72 uur. Daar was al vyf noodsituasies in ’n bestek van 4 dae gewees.
MES het ook in vennootskap met die CMR Johannesburg getree. Die maatskaplike werkers van MES ontvang supervisie van die CMR en MES help met gemeenskapsontwikkeling van die CMR.

5.4 Fokus
Die vyf strategiese fokuspunte van MES is:
• Basiese sorg en maatskaplike dienste
• Gesondheid
• Behuising
• Onderrig, opleiding en indiensplasing
• Bediening

Vanuit die strategieë is daar 7 ontwikkelingsprogramme wat uitloop in ongeveer 36 projekte

5.5 Bediening
MES se bediening vorm die basis van al die verskillende programme. Die fokus is op die verskillende programme waar MES met die gemeenskap werk. Daar is ook ‘n gerigtheid op die mense op straat. Met die aantal geboue van MES en Madulamoho waaroor ons beheer uitoefen, was dit onafwendbaar dat daar ‘n nuwe fokus ontwikkel het, naamlik om in elke gebou ‘n geloofsgemeenskap te vestig. Vir die nuwe evangeliseringsgeleentheid het ‘n aantal gemeentes na vore getree om hulp te verleen deur ‘n gebou aan te neem.

MES se uitgangspunt is baie duidelik dat ons nie ‘n kerk is nie, maar sterk ondersteuning aan kerke bied om hul roeping in die stad uit te leef. Die bediening het daarom ‘n Bybelskool wat sterk fokus op die geestelike toerusting van personeel, asook ‘n Teologiese Kollege wat in samewerking met die Mukhanyo Kollege van die Gereformeerde Kerk ‘n geakkrediteerde diploma aanbied. Die eerste 7 studente het hierdie jaar met hul studies begin. Die kollege fokus op pastore en voornemende leraars binne die Afrika konteks.
Met die Teologiese Kollege is die uitgangspunt dat ons die teologie terugneem na die strate en bekostigbaar maak vir die armstes van armes wat deur die Here geroep word.

5.6 Spanning en teenkanting
Die vraag word dikwels gevra of die Hillbrow omgewing nie baie gevaarlik is nie? Dit is natuurlik nie die gemaklikste omstandighede nie. Daar is trouens maar altyd ‘n stuk spanning en ongemak wat kenmerkend is van elke groot stad. Daar is elke jaar ‘n kwota personeellede wat die slagoffers van misdaad is. Twee gewapende rooftogte, ‘n groot aantal inbrake en drie motorkapings is deel van ons statistiek die afgelope paar jaar.
Daarby het MES sy eerste gebouekaping beleef, iets wat in die middestad van Johannesburg ‘n algemene verskynsel is. Die kaping van voertuie word as ‘n kriminele oortreding in die wetboek beskryf, ook die diefstal van ‘n selfoon. Die kaping van ‘n gebou word gesien as ‘n siviele aangeleentheid en die sogenaamde Wet op die Voorkoming van Onregmatige Uitsettings (algemeen bekend as PIE) verleen genoegsame beskerming aan gebouekapers om genoeg geld te maak uit die proses voordat die eienaar met groot koste die saak kan beredder. Die spanning en intimidasie hieraan verbonde spreek vanself.

6. Die rol en plek van geloofsorganisasies

6.1 Ontstaan van geloofsorganisasies
Geloofsorganisasies soos MES en PEN het ontwikkel vanuit die kerk uit die harte van gelowiges in gemeentes. Die volgende ongemaklike vrae sou aan die kerk gevra kon word:
• Sou daar ‘n behoefte wees aan geloofsorganisasies as die kerk sy plek vol gestaan het in die stede?
• Sou daar ‘n behoefte wees as kerke kon saamwerk?
• Sou daar ‘n behoefte gewees het as die kerk die uitstuuropdrag van die Bybel verstaan het soos baie van sy lidmate dit verstaan?
• Sou daar ‘n behoefte wees as kerke nie so besig was met hul eie lidmate dat hulle vergeet het van die mense buite nie?
• Was kerke so gemeentegerig dat hulle nie gemeenskapsgerig kon dink nie, so eksklusief dat hulle nie inklusief kon dink nie, so polities verstrengel dat hulle nie mense wat ander tale praat of anders lyk as potensiële lidmate en medegelowiges kon raaksien nie?

6.2 Kenmerke van ‘n geloofsorganisasie
• Die voordele van geloofsorganisasies is dat hulle ‘n professionele bestuurstyl kan ontwikkel waar kundigheid en kwaliteit ‘n groot rol kan speel. Dit verskil van die kollektiewe besluitnemingsprosesse wat gemeentes kniehalter en meebring dat belangrike rigtinggewende besluite dikwels sneuwel of vir lang periodes in arres gehou word.
• Geloofsorganisasies baseer hul werkswyse op gesonde Bybelse beginsels sonder om vas te val in dogma en kerkorde. Dit is aantreklik vir baie sakeleiers en selfs vir die regering. Die dienskneggestalte, naamlik om onvoorwaardelik diens te lewer sonder om leiding te wil neem, is ‘n sterk uitgangspunt. Die meer pragmatiese benadering van doen wat die hand vind om te doen, is ‘n belangrike rede vir die groei van geloofsorganisasies.
• Daar is bevind dat geloofsorganisasies sterk kernwaardes het en dat die vlakke van toewyding baie hoog is. Daarom oorleef hulle nie net in die stad nie, maar groei hulle. ‘n Goed deurdagte strategie met ‘n professionele bestuursplan is vir die vorming van vennootskappe baie belangrik.
• Regeringsinstansies en selfs die korporatiewe sektor sal nie sonder meer kerke finansieel ondersteun nie. Die feit dat daar ‘n stuk onafhanklikheid is van kerke, maak geloofsorganisasies ‘n gesogte vennoot.

6.3 Die toekoms van geloofsorganisasies
• ‘n Baie belangrike vraag wat gevra moet word, is of die verskillende geloofsorganisasies elkeen op hulle eie moet ontwikkel binne ‘n bepaalde stad, elkeen met sy unieke uitdagings, en of daar nie ‘n nodigheid is om dalk nouer saam te werk of selfs onder een sambreel die pad vorentoe te loop nie?
• Die vraag sou dus wees: Het God nie dalk ‘n groter plan met organisasies soos ons, as wat onsself het nie?
• Die verhouding tussen geloofsorganisasies en die kerk kan vir beide baie beteken. Die kerke het eenvoudig nie meer toegang tot baie gemeenskappe nie. Geloofsorganisasies kan derhalwe vir lidmate van gemeentes geleentheid bied om betrokke te raak in gemeenskappe en kerke kan hulle roeping in die gemeenskappe uitleef sonder om die besluitnemingsprosesse te beheer. Die geloofsorganisasies kan die kanaal word waardeur die kerk weer kan begin groei.
• Ek is oortuig daarvan dat ‘n sambreelstruktuur vir geloofsorganisasies baie kan beteken. Dit sou beteken dat ons steeds in elke plek op grond van die behoeftes van die gemeenskap kan ontwikkel, maar gedeelde visie, missie, kernwaardes en beleid kan ons saambind. Daarbenewens kan die gevestigde organisasies op só ‘n wyse ‘n bron van ondersteuning word vir nuwe organisasies.
• In gesprekke met die CMR strukture rondom Pretoria en Johannesburg is die konsep Sentrums van Hoop gebore. Die konsep, wat deur die kerk ondersteun word, is op baie plekke met entoesiasme ontvang. Die konsep behoort egter nie aan gemeentes oorgelaat te word om na willekeur te ontwikkel nie, en dit moet nie dit nie ‘n eksklusiewe kerklike karakter kry nie. Geloofsorganisasies soos PEN en MES dalk ‘n baie deurslaggewende rol vorentoe speel in die ontwikkeling. Dit kan vir die kerk lewensaar word na die gemeenskappe. Die Sinode Hoëveld van die NG Kerk het ‘n belangrike besluit geneem deur in vennootskap met MES nuwe geloofsgemeenskappe te ontwikkel en so hande te neem om die evangelie in die hart van die stad uit te dra.

7. Uitdagings vir die kerklidmate
Ek sou graag ‘n uitdaging rig aan lidmate aan die hand van ‘n paar gedagtes uit Lukas 10:
• Die verhaal van die barmhartige Samaritaan spel vir ons die vyandige verhouding tussen die Samaritane en die godsdienstige Jode uit – die geweldige afstand en vyandigheid van die formele Joodse Kerk teenoor sekere gemeenskappe.
• Die gelykenis wys op die rol wat ons eie vooropgestelde idees speel wanneer ons met ander gemeenskappe te doen kry. Dit wys op ons gewoonte om alles teologies te definieer en in te pas in ‘n raamwerk wat vir ons gemaklik is.
• Dit dui op ons onvermoë om oor die grense te stap en ons onvermoë om nood by ander raak te sien en onsself betrokke te voel.
• Die verhaal dui op ons onvermoë om raak te sien hoe Jesus nie net vir ons kom leer het oor die evangelie en versoening en herstel nie, maar dit vir ons kom voorleef het.

8. Slot
Ek maak graag ‘n paar slotopmerkings:
Die evangelie “gebeur” waar ek iemand in nood ontmoet, waar dade harder praat as woorde.
Versoening is nie net Bybelse woorde nie, dit is menslike dade wat Goddelike woorde demonstreer.
God se tyd is nou. Ons gehoorsaamheid aan God kan ‘n verskil in ons land maak en gaan verseker die toekoms van die kerk bepaal!

No comments: