Monday, October 22, 2007

MY BRIL WAARDEUR EK DIE GOEIE NUUS EN WEERLOSE GEMEENSKAPPE SIEN: ‘N PSIGODINAMIESE PERSPEKTIEF I.

Me Dagmara du Plessis is Bestuurder van PEN se Guidance & Support Centre en is 'n Sielkundige van beroep.

1. Inleiding

Die Ruimtelike- en Sosiale Posisioneringskaarte (RSPS) word daagliks gevorm in ons interaksie met mense rondom ons. Louw en Gerdes ( 3,12 ) noem dat deur sosialisering die individu kennis verkry van reëls, houdings, oortuigings, gewoontes, waardes, rolvereistes, en norme wat in die sosiale milieu gangbaar is. Die individu leer om of die sosiale norme vir homself toe te eien, of om sy gedrag in dermate aan te pas dat dit binne die gemeenskap aanvaar word.

Sosialisering vereis dat die persoon ’n bereidwilligheid toon om die norme van sy sosiale groep aan te neem. In die moderne stedelike samelewing waar kinders aan ’n verskeidenheid konflikterende sosiale waardestelsels blootgestel word, kan sosialisering problematies wees. Nog groter is die probleem by groepe wat in ’n oorgangsituasie tussen kulture verkeer soos wat ons tans in ons eie samelewing terdeë ervaar.

Sosialisering is ’n dinamiese proses en beteken dat sosiale ontwikkeling sal plaasvind. Dit het in breë te make met die mens se verhouding met ander mense, die invloed op die samelewing en meer spesifiek op ander persone waarmee ons in aanraking kom. So begin sosiale ontwikkeling tydens die eerste kontak tussen moeder en kind, daarna die uitbreiding van die kind se interpersoonlike kontakte, die modellering van gedrag, die ontwikkeling van geslagsrolidentifikasie, morele ontwikkeling, die ontwikkeling van verhoudings tussen geslagte en uiteindelik ook die vereensaming tydens bejaardheid.(3,16) Die sosiale ontwikkeling in elke individu dra dan uiteindelik ook by tot die totstandkoming van die Ruimtelike- en Sosiale Posisionering Sisteem (RSPS).

2. Die totstandkoming van die Ruimtelike- en Sosiale Posisionering Sisteem (RSPS) vanuit ‘n psigodinamiese perspektief.
Die Ruimtelike- en Sosiale Posisionering Sisteem (RSPS) het, soos alle menslike funksies, sy oorsprong in die Sentrale Senuweesisteem (SS), wat dit vir die individu moontlik maak om in sy totaliteit tot sy leefwêreld toe te tree. Die SS skenk aan ons die vermoë om te kan waarneem, te kan aanpas en om in interaksie met die wêreld te tree. Deur die SS ontvang ons en respondeer ons op inligting vanuit die omgewing. Hierdie inligting word deur die neurone geprosesseer. Vir hierdie prosessering beskik die SS oor nagenoeg 180 biljoen neurone wat met die verwerking van inligting behulpsaam is. Inligting word vanaf die neurone deur die sinapses in samewerking met neurotransmitters oorgedra. Volgens Goldstein is daar meer sinapse in die brein teenwoordig as wat daar sterre in die melkweg voorkom.

Vanuit hierdie raamwerk maak Daniel Goleman (1, 4) die aanmerking dat die brein die sentra is waardeur tot sosiale verhoudinge toegetree word. “Our brain’s social circuits navigate us through every encounter, whether in the class room, the bedroom, or on the sales floor. These are the circuits at play when lovers meet eyes and kiss for the first time or when tears held back are sensed nonetheless”. “Our social interactions even play a role in reshaping our brain, through “neuroplasticity”, which means that repeated experiences sculpt the shape, size and number of neurons and their synaptic connections. By repeatedly driving our brain into a given register, our key relationships can gradually mold certain neural circuitry. In effect, being chronically hurt and angered, or being emotionally nourished by someone we spend time with daily over the course of years can refashion our brain. (1, 11). Die intensiteit van emosionele betrokkenheid tussen mense bepaal dan ook die kwaliteit van wedersydse beïnvloeding. Die mees intense en intieme interaksionele verhoudinge ontstaan tussen mense wat daagliks met mekaar in verhouding tree en waar ’n groot mate van wedersydse omgee heers. Ons sosiale interaksies is dikwels soos interpersoonlike termostate wat kontinu ons emosies reguleer en orchestreer. Hierdie emosies het verreikende gevolge nie net emosioneel nie maar ook fisiologies, aangesien dit ook bydra tot die aktivering van hormone wat ons biologiese sisteem vanaf sy hartklop tot immuunsisteem beïnvloed. (1, 12 ) Hierdie wedersydse beïnvloeding het egter soos ’n dubbelkantige swaard. Gesonde- liefdevolle- omgeeverhoudinge bevorder die gesondheidstoestand van die liggaam terwyl toksiese interpersoonlike verhoudinge die liggaam stadigaan vergiftig.

Kyk ons vandag na interpersoonlike verhoudinge word dit duidelik dat hulle in baie gevalle ’n gebrek toon aan omgee, liefde en vertroeteling. Hoe sou liefdevolle, omgeeverhoudinge in die daaglikse lewe daaruit sien? Landman ( 5, 62-64) verstrek die volgende verhoudingsessensies wat as moontlike kriteria voorgehou kan word vir ’n verhouding:

’n Verhouding is die -
• Begryping vir mekaar se andersheid
• Belewing van mekaar se andersheid
• Agting vir mekaar, ongeag ons andersheid
• Aanvaarding deur:
1. ’n Bereidheid te toon om tot ’n verhouding toe te tree
2. Binding met jou medemens te vorm
3. Medemenslikheid te erken
4. Medestander wees
5. Mede-ganger wees
6. ’n Voorneme om te versorg oor te dra
7. ’n Versorgingsruimte te skep
8. ’n Mens in jou wêreld verwelkom
9. Handelend in liefde op te tree deur ’n tuiste vir jou medemens in te rig, nabyheid te stig en ’n “ons” ruimte te stig.

’n RSPK met hierdie kriteria as riglyn sal ’n samelewing en gemeenskap weerspieël waarin mense gevoelens van behoort, aanvaarding, vergifnis, omgee, vertroue, samewerking en gesonde groei kan beleef en ervaar. (7, 22-30) Verhoudingsgewys sal mense binne ‘n gesonde gemeenskap leef.

3. Faktore wat die vorming van Ruimtelike- en Sosiale Posisioneringskaarte beïnvloed

TS Elliot (1,9) het in 1963 met die koms van die televisie die volgende uitspraak gemaak: “This new medium permits millions of people to listen to the same joke at the same time and yet remain lonesome” Tussen vyf- en sewe uur saans wil deesdae niemand gesteur word nie want dan is dit Sepie tyd. Ironies dat hierdie programme almal toegespits is op interpersoonlike verhoudinge wat weens gebrekkige kommunikasie, oneerlikheid, ontrouheid ens. almal ten gronde gaan en dit in baie gevalle as aanvaarde norm daargestel word.

In Duitsland, ’n land met sy roetine, reëls en goedgeratte tegnologiese sisteme, word ’n jong man omgery. Hy land op die sypaadjie waar hy bly lê. Voetgangers gaan by hom verby, staar na hom maar niemand verleen hulp nie. Uiteindelik stop ’n motoris. Hy bied aan om die nooddienste van die ongeluk te verwittig. `n Medikus maak hierna die volgende aanmerking: “Mense loop net weg wanneer hulle sien dat ander in nood verkeer. Niemand gee meer om nie”. Is daar in hierdie land ’n sosiale kartering van ’mense gee nie om nie’?

In 2003 was enkelouer gesinne die mees algemene huishoudings in Die Verenigde State. (1.11)
In New York bedryf ’n bakster `n bakkery in een van die besigste stasies ter wêreld. Sy beskryf haar kliënte as afwesig en afleibaar. In baie gevalle het sy nodig om herhaaldelik met die I-pod op die ore te kompeteer wanneer sy haar kliënt se aandag probeer kry sodat sy ’n bestelling kan neem. Dikwels is die musiek so hard dat mense in die omgewing sonder moeite kan saamluister.

Die koms van die rekenaar het in baie opsigte die werkslading van mense verlig maar ook sy eie tegnologiese sosiale wêreld geskep. Soveel makliker word daar nou met mense gesels deur middel van die e-pos fasiliteit. Hoeveel ouers het in die aande tyd om hulle e-posse na te gaan en daarop te reageer in plek daarvan om tyd met hulle kinders deur te bring.

Die Internet bring die wêreld met al sy goeie en minder goeie invloede in ons lewens. Vandag spandeer ons jong kinders meer tyd aan rekenaarspeletjies, web-speletjies, playstation speletjies as wat hulle aan skoolwerk aandag gee. Soveel jong kinders van vandag maak maklik die stelling dat skool vervelig is en die rekenaar darem nog ’n mate van ’n uitdaging bied.

Die loopfone is ’n kommunikasiemedium waardeur mense oral en ter enige tyd bereikbaar is. Intieme kuier geleenthede word dikwels onderbreek deur die ontydige gelui van die loopfoon. Selfs ons eredienste is nie hiervan gevrywaar nie. Al ooit gewonder hoe die Goeie Boodskap deur ’n kleuter verstaan word wanneer die gemeenskap van gelowiges teenstrydighede kommunikeer. `n Kleuter wat saans moet hoor dat Jesus lief is vir hom en hom sal bewaar terwyl sy omgewing getuig van ouerlike afwesigheid, kritiek en ongeduld.

Henry Blackaby maak die stelling dat Christen wees ’n verhouding is tussen God en mens. Hierdie verhouding is ’n ken verhouding waarin wedersydse kommunikasie plaasvind. Dit is ’n verhouding waar ons leer om te vertel, te vra en te luister. (8 10) Bogenoemde faktore beïnvloed interpersoonlike verhoudinge nadelig weens die gebrek aan saamwees en kommunikasie.

4. `n Sosiale Posisionering Sisteem vir oordenking
Die verhaal word vertel van ’n vrou wat haar suster aan die dood afgestaan het. Sy ontvang ’n telefoon oproep van ’n goeie vriend wat met haar simpatiseer. Geraak deur die gebaar van die oproeper maak hierdie jong vrou gebruik van die geleentheid om haar seer te deel. Gedurende die gesprek hoor sy oor die telefoon hoe die rekenaarsleutelbord gebruik word. Sy besef dat die luisteraar aan die ander kant besig is met ander werk, en nie werklik na haar luister nie. As sy uiteindelik die telefoon neersit voel sy teleurgestel en seergemaak deur hierdie optrede van ’n vriend. Nou wens sy dat haar vriend haar nooit gekontak het nie.

Martin Buber definieer hierdie as `n “Ek – Dit” verhouding.(1105) Die ek-dit verhouding word gekenmerk deur ’n afwesigheid van ’n wedersydse ontmoeting, ingesteldheid, betrokkenheid, ’n gebrek aan empatie en meelewing met die ander. Dit word `n ek-objek verhouding. Die persoon word `n objek en deur my onbetrokkenheid word die mens tot ‘objek’ gereduseer. Hierdie ek–dit verhouding is gewoonlik eensydig en stel slegs die eie belange voorop.

Buber meld in sy filosofie oor verhoudinge dat ’n spesiale band, deur nabyheid en wedersydse betrokkenheid ontstaan tussen mense wat in intieme, naby verhoudinge leef soos met ’n huweliksmaat, gesinslede of vriende. In Duits is die intieme verwysing na Du die term wat ’n intieme nabyheid tussen mense impliseer. In die Du- verhouding is daar volgens Buber ’n transendentale dimensie. Die mens se verhouding met GOD is ‘n ek-jy (Du) verhouding wat onbegrens is en vrylik instand gehou kan word – ’n ideaal vir ons imperfekte mensheid. Daagliks kan elkeen tot `n ek-jy verhouding toetree in sy uitreik na mense deur byvoorbeeld respek aan iemand te betoon, gaaf te wees en waardering uit te spreek. In hierdie koue wintermaande ontvang ons so graag komberse van mense en deel dit ook so graag uit. Al gewonder of hierdie sosiale interaksie ‘n ek-ek verhouding verteenwoordig?

Empatie open die deure tot ‘n ek-jy verhouding - `n verhouding wat alleen tot stand kan kom wanneer twee mense bereid is om in totaliteit tot die verhouding toe te tree. Die kwaliteit van die ek-jy verhouding lê in die vermoë om mekaar werklik op gevoelsvlak te kan ontmoet – Die Engelse sogenaamde “feeling felt” beskryf hierdie ontmoetingsvlak baie duideliker. In Japanees word die woord “amae” gebruik wat sensitiwiteit beteken waaruit ’n vanselfsprekende empatie voortvloei. “Amae” word nie verbaal gekommunikeer nie. Binne die amae, voel die mens, gevoel. Die moeder-baba verhouding, is ’n amae – verhouding wanneer die moeder intuitief die behoeftes van haar kind aanvoel en daarop reageer. Die sekuriteit wat deur hierdie verhouding verskaf word bied nie net emosionele sekuriteit nie. Die brein word hierdeur gestimuleer die om sekere neurotransmitters af te skei wat genot en plesier verskaf. Dekades nadat hierdie bevinding deur Bowlby gemaak is, het neurowetenskaplikes twee plesierinduserende neurotransmitters geïdentifiseer, naamlik Oxytocin en Endorphine. Oxytocin voorsien ’n sensasie van ontspanning terwyl endorphine die heroien in die brein is, en vir plesier verantwoordelik is. Vir die baba en kleuter, ouers en gesin, bied hierdie neurotransmitters sekuriteit. Dit open wee vir vriendskappe en latere romantiese intimiteit.

Die meeste kinders behoort in hulle grootword geleer te word om ’n onderskeid te tref tussen die verskillende emosies wat ervaar word. Navorsing het getoon dat kinders wat aan ernstige verwaarlosing onderwerp is, nie die vermoë het om emosies te kan onderskei nie. Hierdie kinders is makliker geneig om aggressie en kwaai gevoelens te eien en ’n hiper-sensitiwiteit daarvoor te ontwikkel. Navorsers het die amygdala, as die emosionele sentrum in die brein geidentifiseer wat op vrees, aggressie en angs reageer. Die kind wat aan mishandeling blootgestel is, reageer meer prominent en baie hewiger op gesigtsuitdrukkings wat woede weerspieël, as wat die geval met kinders is wat in ’n sekure omgewing grootgeword het.

Kom ons kyk in hierdie geval weereens na Buber se eienskappe van die ek-jy; ek-dit - verhouding en die gevolge daarvan: (1 106)


5. Die goeie nuus in weerlose gemeenskappe.
Matteus 28:19 lui soos volg: “ Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20. leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.” Jesus gee die opdrag om uit te gaan en mense van hom te leer. Hierdie is nie net ’n uitnodiging om na ’n kerk toe te kom nie maar om uit te gaan na die mense toe en met hulle in verhouding te tree. Deur hierdie verhouding sal ’n verhouding uiteindelik ook met Jesus moontlik kan wees. Gross (2, 3 ) stel dit soos volg: “ In a new millennium, Jesus might say it this way : “Go into the gutters of the city and love people so that they will love Me.” Jesus het self minder gegoede buurte besoek, mense daar gevind, by hulle tuisgegaan, na hulle dinge geluister en met liefde omvou. Hy kon hulle Vriend word in hulle omgewing, in hulle woonbuurte en hulle huise. Hy het Hoop gebring aan mense met gewone pyn en normale probleme.(2,4)

In hierdie stuk verwys ons na weerlose gemeenskappe. Sinoniem vir hierdie term gebruik Gross (2, 4) die term “gutter” wat hy soos volg omskrywe: “ The gutter is a place I am least likely or inclined to go because it is a place where people are not like me: they are not Christians.” Weerlose gemeenskappe is dikwels die laaste plek waar nuwe lede vir ’n kerk gewerf wil word. Dit is allermins die plek waar nuwe vriendskapsverhouding gestig wil word.
Dit is vandag geen geheim dat om samelewing gekenmerk word deur pyn, moord, verkragting, oorloë, misdaad, finansiële gebreke ensomeer . Gebroke mense is deel van elkeen van ons se daaglikse bestaan. Gross (2, 8) stel dit dat ongeag van elkeen se situasie daar ’n oplossing is wat deur God daargestel word. Die Goeie Boodskap van GOD is tot almal se beskikking, en vir baie slegs toeganklik wanneer dit deur uitreik, omgee, liefde, betrokkenheid, geborgenheid en koestering oorgedra word. Die invloed wat sodanige uitreik op die vorming van die Ruimtelike- en Sosiale Posisioneringkaart sal hê kan net meer gunstig wees en tot ‘n fisiese-, emosionele- en sosiale gesonde Christengemeenskap lei.

Bibliografie
1. Goleman Daniel. Social Intelligence. Hutcinson London. 2006
2. Gross Craig. The Gutter – Where life is meant to be lived. USA 2005
3. Louw DA, Gerdes LC, Meyer WF. Menslike Ontwikkeling. Haum 1984
4. Louw DA.Human Development. Kagiso Tersiary 1997
5. Landman WA. Fundamnetele Pedagogiek en Onderwyspraktyk. Butterworths Durban 1977.
6. Louw DA, Edwards DJA. Psychology An introduction for students in Southern Africa. Lexicon Publishers JHB. 1995
7. Vanier Jean. Community and Growth. Paulist Press, New York 1989
8. Blackaby Henry. Experiencing and doing the will of God.

No comments: