Monday, October 22, 2007

HOE OM DIE GOEIE NUUS IN WEERLOSE GEMEENSKAPPE TE WEES EN DOEN?


Hoe om die Goeie Nuus in Weerlose Gemeenskap te Wees en Doen? 18 - 20 Junie

'n Konferensie is vanaf 18 - 20 Junie 2007 gehou in die ou Bosmanstraatkerk in Pretoria. Die gashere vir die geleentheid was PEN (Pretoria Evangelisering en Nasorg), MES (Metropolitaanse Evangeliese Sorg) en die Universiteit van Pretoria. Ongeveer 40 persone van verskeie agtergronde het die drie dae byeen gekom om oor hulle ervarings as Christen-werkers in weerlose gemeenskape te "wees" en "doen". Hierdie Blog wil die gesprek wat ons in Junie 2007 begin het, voortsit.
Die eerste paar posts wat hier volg, is die skriftelike weergawes van sommige van die talks wat tydens die konferensie gelewer is. Ongelukkig kon ons nie almal plaas nie vanweë verskeie redes. Sommiges is verwerkte weergawes en nog ander is 'n artikel-weergawe van die dag se praatjie. Nie een is behoorlik ge-edit en ortografies korrek nie. Indien jy verwysings ens soek, sal jy maar die skrywer direk moet kontak. Epos my en ek sal kyk wat ek kan doen. Ek hoop julle kan dit gebruik!

Ek gaan ook hierdie Blog gebruik om ander relevante artikels en links aan julle oor te dra en ek nooi julle uit om asseblief dieselfde te doen. Ons kan binne 'n kort tydjie 'n enorme klomp inligting op die www loslaat.

Om mee te begin wil ek 'n opsomming van ons konferensie gee:

Die doel van die konferensie was om ons te konfronteer met die lewensopeisende imperatief om die boodskap van Jesus te bring aan alle mense, veral aan dié met wie ons onsself nie gewoonlik mee wil assosieer nie. Vir middelklas en welgestelde mense sluit dit gewoonlik mense in die middestede en plakkerskampe van ons land in. Dit eis ons liefdesdiens vir mense oor klas- en kleurgrens in; dit vra ons beste vir mense wat dit eintlik nie werd is nie – die prostitute en vlugtelinge; haweloses en mense wat aan HIV/VIGS ly. Die konferensie is gehou in die historiese Grootte Kerk in Bosmanstraat, die moederkerk van alle NG Gemeentes in die stad en is bygewoon deur ongeveer 40 verteenwoordigers van regoor die land.

Dag 1 se tema het ons uitgenooi om vir eers eerlik te wees oor ons kerklike pogings om die Goeie Nuus in weerlose gemeenskappe te bring. Soos Sheila Cussons vra: “Vryf ons nie dalkies ons handjies Joods soos vlieë nie?” Ons doen soms goeie dinge net om goed te lyk vir ander of omdat dar die een of ander voordeel vir ons in is. Dr Ben du Toit het ons gekonfronteer met die manier hoe ons dikwels heel “Joods” die vinger na ander mense se sonde wys sonder om enigsins die konteks van daardie persoon in aanmerking te neem. Biskop Gavin Taylor van die Methodiste Kerk het dit baie duidelik gestel: “As ons in die stad wil werk, sal die Goeie Nuus geleef moet word as ons wil hê dit moet geglo word.” Dit sal beteken dat ons self eers getemper moet wees deur die Goeie Nuus om as eerlike, gewone Christene in ‘n deurmekaar wêreld te kan funksioneer. Net soos Jesus die stad ingery het op ‘n klein, nederige donkie, moet ons die evangelie van Jesus eerder op nederige “donkies” aanbied om geloofwaardig te wees, as op ‘n indrukwekkende perd wat vir meeste mense bo hulle vuurmaakplek is. Prof Klippies Kritzinger het die nagmaal as voorbeeld gebruik waarin ons opgeroep word ons mekaar se menswaardigheid te erken en waardeer en nie soos in die hartseer geskiedenis van ons kerk een mens hoër geag het as ‘n ander nie. Die dag is afgesluit met ‘n wonderlike Skyfievertoning van ds Danie du Toit waarin Jesus se uitreiking na die “geringste van sy broers” pragtig uitgelig is.

Dag 2 se tema het ons verder uitgedaag om prakties te raak. Ds Pieter Bosch (MES) het ons vertel van hulle werk met hawelose mense in die middestad van Johannesburg en hoe dit hom as persoon by ‘n dieper verstaan van God se onbegrensde liefde vir alle mense gebring het. Me Dagmara du Plessis en ds Francois Smit van PEN het ons ‘n nuwe kykie gegee in die manier hoe ons heel dikwels na mense wat anders as ons is, kyk en hoekom ons so traag is om selfs met die beste teologie agter die blad uit te reik na ander mense. Die middag is gewy aan ‘n toer van PEN se bedieninge in die middestad van Pretoria. Die dag is afgelsuit met ‘n nagtoer waarin ons twee-twee van Bosmanstraatkerk na die Methodiste kerk in Visagiestraat, waar ons ook saam nagmaal gebruik het, gestap het. Net soos die twee Emmausgangers van Lukas 24 het ons, dalk vir sommiges vir die eerste keer, die stad probeer sien deur die oë van Jesus.

Die laaste dag se tema het ons uitgedaag om met hoop die toekoms in te gaan. Ds Johan Krige (MES) het ‘n karakter in die musiekblyspel Whistledown the Wind aangehaal om die kerk se soms oppervlakkige metodes uit te lig: “I need a man who knows what I am really worth; I don’t give a damn about life after death, but I gotta get some proof that there’s life after birth!” Die kerk se sukses moet eerstens gemeet word aan ons vermoë om mense hoop en gereedskap te gee vir die lewe vandag voordat ons oor die lewe ná hierdie lewe begin praat. Ds Martiens Swart het die groep vervolgens gelei om sekere brandpunte te bespreek. Rassisme, het die groep besluit, is nog alive and well in ons gemeenskap en ons sal dit slegs te bowe kom as ons bereid is blootgestel te word aan mekaar se wêrelde. Meer as ‘n kopskuif is nodig. Om werklik broers en susters in Christus te word is dit nodig om ‘n lyfskuif na mekaar te ondergaan. Elise Bosch het ons tydens middagete vergas met ‘n paar verhale uit die middestad van Pretoria waarna ons kans gekry het om ons gedagtes en gevoelens bymekaar te hark en vir mekaar totsiens te sê...tot volgende keer.

Daar word beplan om die konferensie weer oor twee jaar aan te bied en ons hoop om jou daar te sien!


Francois Smit

No comments: