Tuesday, October 23, 2007

MY BRIL WAARDEUR EK DIE GOEIE NUUS EN WEERLOSE GEMEENSKAPPE SIEN: ‘N PSIGODINAMIESE PERSPEKTIEF II.

Ds Francois Smit is Direkteur Ontwikkeling van PEN. Hy is ook 'n tentmaker-predikant van NG Gemeente Pretoria.


Die wonder van moderne tegnologie het ons die wonderlikste goed gebring. Ek kan nou iewers in die karoo op ‘n rots op ‘n heweltjie sit en met my selfoon bankbesigheid doen. Ek kan ook weer maande later my pad terugvind na daardie selfde heweltjie en daardie selfde rots deur ‘n ander stukkie tegnologie te gebruik, nl ‘n GPS, of te wel ‘n Global Positioning System. Hierdie wonder van moderne tegnologie stel ‘n mens in staat om van punt A na punt B te kom deur die gebruik van koördinate wat deur verskeie sateliete in die ruimte aan ons verskaf word. Die nuutste stelsels maak dit veral gemaklik en plaas ‘n mens (of mototvoertuig) se koördinate op ‘n gedetaileerde kaart van die omgewing. Die kaart word van tyd tot tyd opgedatteer deur die vervaardigers. Motoriste kan ook die kaart help opdatteer deur na die webwerf te gaan en sekere kritiese punte soos spoedlokvalle en padverbouings aan te dui wat dan weer beskikbaar is vir ander gebruikers nadat hulle hulle kaart opgedatteer het.

Die mens het ‘n soortgelyke sisteem mbt sosiale verbande. Vir die doel van die oefening wil ek dit die Spatial & Social Positioning System of SSPS noem. Hierdie ruimtelike en sosiale Posisioneringstelsel is ‘n baie belangrike element in ons denke oor bediening aan gemarginaliseerde indiwidue en gemeenskappe. So belangrik, myns insiens, dat ons die impak daarvan heeltemaal onderskat in ons teologisering rondom hierdie onderwerp. Gevolglik sou ek tyd wou spandeer in ‘n ekspolrering van hierdie SSPS om te probeer vastel hoe dit in die denke van ‘n mens ontstaan; die subtiele invloed wat dit uitoefen in ons daaglikse ruimtelike en sosiale skakeling met die wêreld buite ons eie liggame; asook die dinamiese proses om hierdie stelsel en elemente binne die stelsel te verander om ‘n beter ruimtelike en sosiale kaart vir ons lewe en bediening te verseker.

RUIMTELIKE EN SOSIALE KAARTERING
Die proses van ruimtelike en sosiale kaartering begin reeds voor geboorte. Inisiëel is dit bloot die persepsie van stimuli: ‘n klank, ‘n ongemaklike drukking, die “proe” van ‘n kluin duimpie; die speel van kleure soos wat pa ‘n flitslig oor ma se maag laat skyn. Die ruimtelike en sosiale kaart word inisiëel geskep op ‘n breë en ongenuanseerde wyse. Eers later, as die duimpie weer in die mondjie ontdek word en ‘n dag of drie later weer ‘n keer, word dit as ‘n bekende stukkie in die ruimtelike kaart verstaan. Heel moontlik is die eerste diskriminerende kategoriale onderskeid wat onder stimuli gemaak word dié tussen aangenaam en onaangenaam. Die duimpie in die mond word aangenaam geoordeel omdat gaandeweg bekend word en in die suig daarvan ervaar die baba ‘n mate van berusting. Klanke word ook onderskei as aangenaam of onaangenaam. Net so kan die strelende (of harde kwetsende) klank van ‘n ma se stem kan aangenaam (of onaangenaam) ervaar word en die drukking iewers hier naby kan as onaangenaam ervaar word. Gaandeweg word ‘n klein lysie van aangenaamhede en onaangenaamhede ontwikkel en soos wat sekere stimuli herhaal word, word die lysie meer genuanseerd in terme van nuwe en reeds ervaarde stimuli. Die eerste proses van geheue-ontwikkeling ontstaan. Die baba het tydens hierdie proses nog geen benul van die oorsaak van hierdei stimuli nie. Ook is daar inisiëel nie ‘n begrip van ‘n ek in hierdie hele proses nie. Dit is bloot ‘n diskriminerende proses waar stimuli gekategoriseer word as aangenaam of onaangenaam. Hierdie diskriminasie het natuurlik eksterne en interne motivering. Laasgenoemde behels onder andere die relatief-onbekende wêreld van genetiese faktore soos genetiese oorerwing en –geheue.

AANGENAAMHEDE ONAANGENAAMHEDE
Sagte, strelende stem (ma) Drukking op ‘n sekere plek (vernouing onder in baarmoeder)
Mooi kleure (flits) Harde klank (pa se Led Zeplin musiek)
Gerusstelende suig van iets (duim)

Kognisie gaan ‘n tweede fase in wanneer die baba die stimuli in terme van hom/haarself begin interpreteer. Na alle waarskynlikheid gebeur dit slegs wanneer ‘n redelike lysie van aangenaamhede en onaangenaamhede reeds bestaan. Die somtotaal van aangenaamhede en die somtotaal van onaangenaamhede kry ‘n gedeelde noemer, naamlik “ek”. Ek hou van (aangenaam) die sagte strelende klank, mooi kleure en die ding in my mond. Ek hou nie van (onaangenaam) die drukking of harde klanke nie.

AANGENAAMHEDE ONAANGENAAMHEDE
Ek hou van... Ek hou nie van...
Sagte, strelende stem (ma) Drukking op ‘n sekere plek (baarmoederdruk)
Mooi kleure (flits) Harde klank (pa se Led Zeplin musiek)
Gerusstelende suig van iets

‘n Volgende fase in die kognisie-proses is om tot die besef te kom dat “ek” sekere kragte het om aangenaamhede te veroorsaak en onaangenaamhede te vermy. Miskien gebeur dit inisieel per toeval, maar soos wat toevallighede herhaal word, word belangrike brokkies informasie in die geheue geberg, wat met die herhaling van stimuli opgeroep en herhaal kan word.

AANGENAAMHEDE ONAANGENAAMHEDE
Ek hou van... Ek hou nie van...
Sagte, strelende stem (ma) Drukking op ‘n sekere plek
As ek dít doen (sametrekking van bobeenspiere) verlig ek die drukking

Ek hou van... Ek hou nie van...
Mooi kleure (flits) Harde klank (pa se Led Zeplin musiek)

Ek hou van...
Gerusstelende suig van iets (duim)
As ek dít doen (sametrekking van biseps) kom duim by mond.

Die basiese proses van enige kognisie is dus as volg:
1. ‘n persoon neem iets waar (drukking op ‘n sekere plek);
2. die stimulis word as aangenaam of onaangenaam beoordeel
3. die geheuebanke word oopgemaak om moontlike addisionele informasie te bekom (het voorheen gebeur en ek kan iets doen om die onaangenaamheid te verminder)
4. die ontwikkelende kognisie word nou verder ontwikkel deur die ervaring in terme van ‘n “ek” te beoordeel en prosesseer (ek hou nie van hierdie ervaring nie en ek kan iets doen om dit te verminder);
5. die “ek” besluit nou op die beste moontlike respons op die stimulis (ek span my spiere).
Hierdie proses moet egter geensins as ‘n chronologiese opeenvolging van stappe beskou word nie. Hoogstens kan ons onderskei tussen bogenoemde prosesse. Indien ons nou

Met verloop van tyd word die kognitiewe proses al hoe ingewikkelder. As peuter leer die kind om sekere simbole (name) aan sekere ervarings te koppel. Die “ding” in die mond word nou ‘n “duim” en die strelende klank word geïdentifiseer met ma se stem. Allerlei kort- en langtermyn herinnerings begin nou ook ‘n rol speel en ek begin leer hoe om myself interaktief tot hierdie kaart rondom my te oriënteer. Die eenvoudige kognisies in die baarmoeder word nou komplekse kognitiewe prosesse waarin die oorspronklike aangename-onaangename diskriminasie genuanseer word in ‘n gestoorde verskeidenheid (en mengsels) van positiewe en negatiewe emosies asook ‘n arsenaal van verskeie reaksie-moontlikhede. ‘n Moontlike duiseligwekkende kombinasie van fisiologiese, hormonale en feromenale faktore kan ook ‘n rol speel tydens die vorming van kognisies en elke ontwikklingstadium van die mens kompliseer die proses verder. Tydens puberteit byvoorbeeld, “...testosterone-like hormones released by the adrenal glands, located near the kidneys, begin to circulate. Recent discoveries show that these adrenal sex hormones are extremely active in th ebrain, attaching to receptors everywhere and exerting a direct influence on serotonin and other neurochemicals that regulate mood and excitability” (PARK, A 2004:51). Emosies tydens puberteit en ander fases in ontwikkeling is dus nie so eenvoudig terug te herlei na die geheue of intensiteit van die stimulis nie. Dit is ook ‘n produk van veel onbekender faktore in die samestelling van die mens.

Een laaste proses in die vorming van kognisies wat tot nou toe nie aandag gekry het nie is die direkte en indirekte invloed van ander indiwidue, gemeenskappe en groter gemandateerde sosiale strukture (soos kerk, kultuur, staat) se kognisies oor ‘n bepaalde saak. Vir die doel van hierdie studie is hierdie faktor in die proses van kognisievorming van geweldige belang aangesien dit heel dikwels die gelegitimeerde sosiale kaart verskaf waarvolgens ons onsself oriënteer. Hiervolgens sal ‘n sosiale struktuur soos ‘n gesin byvoorbeeld sekere sistemiese konstrukte vorme wat aanvaarbaar is om te handhaaf binne die gesin. “Ons skreeu vir die Bloubulle in ons gesin!” is miskien ‘n minder-aanvaarbare voorbeeld van so ‘n konstruk. Ons lidmaatskap aan die NG Kerk en gevolglike afkeur aan ander “vlakker” spiritualiteitsvorme is ‘n ander. My ma het my byvoorbeeld gemaan om nie met weeskinders te speel nie aangesien hulle “die ene luise” is. Sulke sosiale stereotipering word kognitiewe strategieë genoem en het ‘n baie belangrike funksie in ons kognitiewe funksionering. Robert Baron en Donn Byrne (1987:78) verduidelik:
Now lets begin looking at some of the short-cuts the mind uses to reduce information overload and make sense of human social life. These short-cuts, also called cognitive strategies, need to have two features in order for people to use them. First, they must provide a quick and simple way of dealing with social information. Second, they must be reasonably accurate most of the time. If a cognitive strategy always leads you to make wrong decisions, you will probably switch to a different strategy sooner or later. Often these cognitive strategies represent a tradeoff between these two features – accuracy (or reliability) and speed (or simplicity).
Hierdie kognisies vervleg met my eie persoonlike kognitiewe konstrukte as kind en gaandeweg vorm ek allerlei ruimtelike en sosiale “waarhede” waarvolgens ek my persoon oriënteer. Hierdie ruimetelike en sosiale kaart bestaan uit ‘n duiseligwekkende hoeveelheid kognisie-komplekse, elk met ontelbare kognisies wat die kognisie-kompleks ondersteun. Hierdie kognisie-komplekse of gevormeerde gesindhede ten opsigte van sake word op verskeie wyses gevorm:
• Klassieke Kondisionering
Baron en Byrne (1987:118) verduidelik aan die hand van “wabbling”:
Imagine a child’s first encounter with “wabble” – the child doesn’t know what wabble is, so she asks her mother about it. Mother frowns or acts upset while answering. The odds are that the mother’s negative emotions will be noticed by the child, who will then develop negative associations to wabble. As the child grows up, that negative attitude toward wobble may continue. This is especially likely if the association is strengthened by similar parental reactions on other occasions. Now cross out “wabble” and substitute work, sex, a certain TV program, or Democrats (lees “ANC” of “die Boere”), and you can appreciate the potential power of parental attitudes in shaping children’s attitudes by classical conditioning.”
• Instrumentele kondisionering
Instrumentele kondisionering is soortgelyk aan klassieke kondisonering behalwe vir die feit dat ons hier te make het met daadwerklike beloning en straf. Indien ek dus positief praat oor wit mense en sleg van swart mense en my pa prys my vir my “insig”, sal dit die kognisie versterk. Straf is die teendeel en het dieselfde psigiese prosesse tot gevolg.
• Modelering
Selfs al is daar nie enige verbale kommunikasie mbt ‘n sekere onderwerp nie, sal kinders hulle eie gedrag en gesindheid modelleer op dié van hulle ouers en ander belangrike mense in hulle lewe. Hierdie figure kan ook karakters in die massa-media wees en navorsing toon dat die media al hoe meer en meer ‘n impak het op ons informele konseptuele ontwikkeling .
• Direkte ervaring
Laastens, leer ‘n kind dmv direkte ervaring. ‘n Ma kan haar kind leer dat vuur gevaarlik kan wees, maar ‘n direkte negatiewe brand-ervaring kan die les eensklaps onderstreep. Dieselfde geld vir ons sosiale leer.

In figuur 3 hier onder word ‘n kognisie-kompleks mbt hawelose mense aangedui. Die relatiewe gewig van elke kognisie word deur die grootte van die blokkie aangedui. Soos ons later sal sien, is persoonlike ervaring en gedrag ook ‘n belangrike aanduiding van die gewig van sodanige kognisie.

Heel dikwels lei ons heuristiese plasing van persone of “tipes” (kognitiewe strategieë) tot vereenvoudigings. Dit is ‘n natuurlike proses omdat ons breine graag dinge so maklik moontlik wil maak en soek gevolglik “patrone” wat maklik verstaanbaar en voorspelbaar is. Die gevolg is heel dikwels oorvereenvoudigings, tiperings en stereotiperings. Meestal het ons ook nie noodwendig baie persoonlike ervaring van sodanige persone nie; die sosiale kaartering van ons konteks is meestal genoegsaam. Hierdie proses help ons om ons sosiale kaarte te ontwikkel en om ons as sosiale wesens binne daardie kaarte te posisioneer.

Sielkundiges vermoed ook dat hierdie kognitiewe strategieë heel dikwels vassteek ten spyte van die feit dat ons teorieë later ongeldig bewys word. Hierdie “uithouvermoë van teorieë” word as volg omskryf: “What happens if a false idea is planted in someone’s mind and the person later learns it was false? The answer is that, sadly, the effects of that false idea may hang on. People seem to cling to their conclusions even after the supporting evidence is discredited” (BARON, R & BYRNE, D. 1987:89). ‘n Baie bekende proefneming is gedoen waarvolgens ‘n groep persone in twee verdeel is. Die een groep het ‘n artikel gelees wat ‘n saak uitmaak dat goeie brandweermanne braaf is. Die ander groep weer het ‘n artikel gelees wat ‘n saak uitmaak dat goeie brandweermanne versigtig is. Daarna is die groepe meegedeel dat die artikels vals was. Het dit tot gevolg gehad dat die mense hulle sienswyses oor brandweermanne laat vaar het? Glad nie. Persoonlike gesprekke hierna het getoon dat die mense steeds hulle teorieë bly handhaaf het. Vir die doel van hierdie studie is dit nodig om na ‘n aantal redes vir hierdie tendens by mense te ondersoek:
• Baron en Byrne voer aan dat een van die vernaamste redes vir hierdie gedrag by mense is die beskikbaarheid van inligting. Ten spyte van die feit dat daardie inligting verkeerd bewys is, het mense steeds hulle idees gehandhaaf omdat daardie inligting vars en beskikbaar was.
• Daar is ook gevind dat mense geneig is om inligting te soek wat hulle persoonlike teorieë staaf. Hulle sal gevolglik inligting op ‘n eklektiese wyse inligting prosesseer om hulle standpunt te bewys. Hierdie bevestigings-voorveronderstelling kan as volg verduidelik word: “People tend to seek out, notice, and recall things that support their beliefs more than things that disconfirm their beliefs” (BARON, R & BYRNE, D. 1987:87).

Om terug te kom na ons oorspronklike GPS-beeld en ons perssoonlike SSPS. Die ruimtelike en sosiale kaart wat ons teen puberteit ontwikkel het is genoegsaam om die wye wêreld mee aan te durf. Ek weet min of meer waar ek ondersteuning, liefde en versorging kry en waar ek die teendeel te wagte kan wees. Ek het ‘n gedetaileerde sosiale kaart waarvolgens die belangrike persone in my lewe in terme van myself aangedui word. Ek weet ook wie ek uit eie ondervinding wil vermy asook wie ek behoort te vermy volgens die belangrikste sosiale konstrukte in my lewe (skool, kerk, regering, ens). Ek het ook al ‘n arsenaal reaksies opgebou waarvolgens ek kan reageer op die uitdagings in my sosiale en ruimtelike mileu. Sekere reaktiewe gedrag is al baie goed ontwikkel, ander is nog relatief lomp en daar is ook reaksies wat op ‘n basiese vlug of veg-refleks neerkom. Indien my idees oor sake of persone beproef word, is my brein gerat om my denkpatroon voort te sit as gevolg van die beskikbaarheid van inligting in my korttermyn-geheue en omdat ek onwillekeurig na informasiepatrone soek om daardie idees te handhaaf. Verandering en ontwikkeling is egter deel van ons lewe en as mens word ek daagliks gekonfronteer met die eis om ‘n metanoia (“kop-skuif”) te ondergaan.

AS DIE KAART BEPROEF WORD: KOGNITIEWE DISSONANSIE

Die probleem met die huidige GPS-stelsel is dat dit, om die engelse uitdrukking te gebruik, so neat is. Die verskaffing van die kaart maak navigasie op die land se erkende paaie amper foutloos. Sommige stelsels stel ook die maklikste roete voor aan die motoris. Ander gebruikers kan die kaart “aanvul” met hulle eie bydraes mbt spoedlokvalle, padverbouings ens. Die kaart wat dus tot die motoris se beskikking is, is ‘n kaart met die volgende eienskappe:
• Slegs erkende paaie word aangedui
• Voorgestelde roetes word verskaf na gelang van die verkose stelsel van die programeerders
• Ander motoriste se bydraes is nie noodwendig onmiddelik verifieerbaar nie
• Die kaart dui nie al die besienswaardighede, mooi tonele of potensiële gevare in die gebied aan nie. Dit het ‘n ander funksie, nl die versekering om die motoris van punt A na punt B te bring in die kortste moontlike tyd. Besienswaardighede, tonele, ens kan slegs geverifieer word indien die motoris dit self waarneem.

Wat nou gemaak indien ‘n motoris wel op ‘n ongekarteerde pad wil ry? Die kaart sal ontoereikend wees. Die pad mag miskien heel duidelik voor die bestuurder uitgelê wees, maar sy sal vir alle praktiese doeleindes in ‘n onbekende en onsekere gebied ry. Dit mag ook wees dat ‘n bestuurder nie vreeslik belangstel in die opdateringsproses nie. Die programeerders het al 2 jaar gelede nuwe paaie op die kaart aangebring, maar vanweë verskeie moontlike redes het die bestuurder nooit sy eie kaart laat opdateer nie. In dieselfde proses het die bestuurder dus ook nie die inset van sy mede-bestuurders in ag geneem nie. Dit mag dus wees dat ‘n bestuurder by ‘n pad kom wat permanent toegemaak is, terwyl sy kaart nog die ou pad voor hom toon.

‘n Soortgelyke proses gebeur met ons SSPS. Die kaart wat aan ons gegee word en wat ons self ontwikkel het oor die jare en ten alle koste wil handhaaf, kan nooit die werklikheid ten volle weerspieël nie. Die pas-afgeloopde sinode se debat rondom homoseksualisme is ‘n nuttige voorbeeld in dié verband. Vir eeue reeds het die sosiale en ruimetelike kaart van ons bestaan aangedui dat heteroseksuele mense nie meng met homoseksueles nie. Homoseksuele mense en die plekke waar hulle bymekaar kom, is nie op die SSPS van die Christelike wêreld aangedui nie. Sekere pioniere het egter seker gemaak dat die kaart ‘n aantal inskrywings kry. Gaandeweg is sekere paaie selfs aangedui. Die eerste stemme aan die NG kerk leierskap om asseblief die kaart op te datteer is geopper. Die programeerders (die regering) het amptelik hulle weergawe met ‘n volledige inkorporering van die homoseksuele wêreld beskikbaar gestel. Teologiese debatte het gevolg. Die interne en eksterne druk het toegeneem met die gevolg dat die kerk besluit het om hulle kaart vir lidmate op te dattteer, ten minste in so ‘n mate dat sekere “hoofroetes” daarop aangedui kon word. Of lidmate hulle ou stelsels gaan opdateer, is natuurlik ‘n ander vraag.

Sielkundiges het al baie geskryf oor die proses waarby ‘n persoon ‘n verandering in sy denkproses moet ondergaan. Een teorie wat veral interessant en relevant is vir die tema van hierdie praatjie is die Kognitiewe Dissonansie teorie. Hierdie teorie is ontwikkel deur Leon Festinger in 1957 en het verskeie verfynings ondergaan oor die volgende paar dekades. In kort wou Festinger en sy span die kognitiewe prosesse by indiwidue aandui en/of voorspel indien ‘n persoon ‘n verskil tussen sy eie gedrag en lewenshouding ervaar of indien ‘n persoon dissonansie tussen twee of meer kognisies ervaar.

Kognisie-verhoudings
In Festinger se model is daar een van drie moontlike relasies tussen kognisies:
• Kognitiewe neutraliteit kom voor waneer daar geen of amper geen verband tussen kognisies ervaar word nie. Homoseksualiteit en die stygende rentekoers het niks met mekaar te doen nie.
• Kognitiewe konsonansie vind plaas waneer twee of meer kognisies logies mekaar ondersteun. Die stereotipiese kognisie “homoseksuale mens trek vreemd aan” en die kognisie van die homoseksuele man in sy pienk geveerde uitrusting op die televisie ondersteun mekaar heelhartig.
• Kognitiewe dissonansie sal die produk wees van twee of meer kognisies (van soortgelyke gewig) wat logies teenoor mekaar staan. Veronderstel dat ‘n baie diep-gelowige en gerespekteerde leier in die kerk erken dat hy homoseksueel is. Hierdie kognisie veroorsaak ‘n groot mate van dissonansie by persone wat tot nou toe homoseksualiteit uit hulle sosiale kaart gehou het.

Die graad van dissonansie word beïnvloed deur verskeie faktore:
1. In sy eenvoudigste vorm kan ons sê dat dissonansie sal toeneem na mate die graad van diskrepansie tussen kognisies toeneem.
2. Tweedens, dissonansie sal toeneem na mate die getal diskrepante kognisies toeneem.
3. Derdens, dissonansie is omgekeerd proporsioneel aan die getal konsonante kognisies wat deur die persoon gehandhaaf word. Hoe meer konsonante kognisies ek kan handhaaf te midde van die een of twee dissonante kognisies, hoe minder sal dissonansie plaasvind.
4. Vierdens, die gewig (belangrikheid of prominensie) van die verskeie kognisies moet in aanmerking geneem word om ‘n oordeel tov dissonansie te maak. Die bogenoemde kognisie oor die kerkleier kan byvoorbeeld veel swaarder weeg as tien konsonante kognisies oor homoseksuele mans.
5. Vyfdens, kognisies wat persoonlike gedrag (of ervaring) insluit is gewoonlik sterker as ander kognisies. ‘n Teologiese diskussie oor homoseksualiteit is enige dag van ligter relatiewe gewig as my persoonlike ervaring of gedrag mbt homoseksualiteit.

Die teorie maak ook ruimte vir drie moontlike weë om kognitiewe dissonansie te verminder:
i. Verandering van kognisies
Indien twee kognisies diskrepant is, is ons eenvoudigste oplossing om doodeenvoudig een van die kognisies te verander om konsonansie te verseker. Albei kan selfs na ‘n meer gemiddelde posisie gebring word. Of ‘n nuwe komplekser kognisie-kompleks kan ontwikkel word.
ii. Byvoeging van kognisies
Indien twee diskrepante kognisies ‘n mate van dissonansie veroorsaak kan die ongemak verminder word deur meer konsonante kognisies by te voeg. My dissonansie oor homoseksuale mans kan byvoorbeeld verminder word deur ‘n boek te lees oor die skaduwêreld van homoseksuele mans.
iii. Wysiging van die gewig van kognisies
Omdat kognisies se gewig in aanmerking geneem word, sal dit nuttig wees om gewoon die belangrikheid of prominensie van sodanige diskrepante kognisie te wysig. Die kerkleier-kognisie se gewig word byvoorbeeld verminder deur te onthou hoe kerkleiers al voorheen hulle lidmate “bedrieg” het.

Oor die jare is verskeie paradigmas ontwikkel om die proses van kognitiewe dissonansie te verstaan:

1. Die paradigma van geïnduseerde instemming
Hiervolgens word mense oorreed om op te treë op ‘n wyse wat teenstrydig is met sy/haar persoonlike oortuiging. Kognitiewe dissonansie word ontwikkel omdat ‘n persoon se gedrag teenstrydig is met sy oortuiging (attitude). Sielkundiges het gevind dat sodanige persone heel dikwels van oortuiging verander omdat (soos ons gesien het) gedragskognisies gewoonlik groter gewig dra as kognisies van oortuiging. Verskeie studies het ook getoon dat indien ‘n persoon ‘n insentief gegee word om iets te doen waarmee hy nie noodwendig saamstem nie, dit nie te groot moet wees nie, omdat ‘n groot insentief beskou word as ‘n genoegsame konsonante kognisie wat die verandering van oortuiging minder noodsaak. Fig 4 hier onder dui die proses aan (BARON, R & BYRNE, D. 1987:136).



Geld is natuurlik nie die enigste insentief nie. In een studie is ‘n groep studente gevra om sprikane te eet. Die een groep is versoek deur ‘n vriendelike, innemende persoon. Die ander groep is ast’ware beveel om die sprinkane te eet deur ‘n baie onvriendelike persoon. Na die feesmaal is gevind dat meer persone in die tweede groep hulle oortuigings mbt die eet van sprinkane verander het. Die tweede groep het meer dissonansie ervaar en moes dus van oortuiging verander.

2. Die lyding-regverdigingsparadigma
In kort kom hierdie paradigma daarop neer dat mense dít waarvoor hulle moet ly leer liefkry. Partymaal gebeur dit dat ons vrywillig goed doen wat onaangenaam is net om later te besef dat my houding jeens die saak verander het. Die rede is voor die handliggend: ‘n Persoon ervaar dissonansie en gevolglik soek en vind ‘n persoon regverdiging vir sy nuwe lydingspad. ‘n Groep vroue studente is byvoorbeeld gevra om deel te neem aan ‘n diskussiegroep oor seks. Vooraf sou hulle egter ‘n toets moes doen om te sien of hulle vir die eksperiment gebruik kon word. Die vroue is in drie groepe ingedeel. Die eerste groep is blootgestel aan pynigende proses waarvolgens hulle vreeslike obsene seksuele woorde en terme aan die toetsbeampte hardop moes voorlees. ‘n Tweede groep het ‘n soortgelyke oefening ondergaan, maar die terminologie was baie sagter op die oor. ‘n Derde groep het geen toets ondergaan nie. Na die “toetsing” is al drie groep gevra om na ‘n bespreking te luister waarin ander persone oor ‘n seksuele onderwerp gepraat het. Die bespreking was van ‘n baie lae standaard en vervelig. Na die bespreking is die vroue gevra om die gesprek te beoordeel. Interessant genoeg het die vroue wat die meeste gely het in die proses (groep 1) die gesprek die beste beoordeel. Die ander twee groepe het dit as uiters vervelig beskou.

3. Die ontoereikende afleidingsparadigma
In kort kom hierdie paradigma op ‘n teendeel van die vorige een neer. Wat sou gebeur indien ons, onsself weerhou om iets te doen wat ons regtig graag wil doen? Kognitiewe dissonansie kom weer ter sprake omdat ons in situasies geplaas word waar ons weerhou word van die een of ander gedrag terwyl daar kwalik genoeg rede daarvoor is. Een van die eerste eksperimente in dié verband is gedoen is, is die van Aronson en Carlsmith (1963). ‘n Jong kind word in ‘n vertrek ingebring waar daar 5 wonderlike stuks speelgoed is. Die kind is toegelaat om vir ‘n rukkie met die speelgoed te speel en is daarna gevra om hulle van beste tot slegste te rangskik. Die speelgoed is dan weer aan die kind gegee met uitsondering van die tweede gunsteling wat heel sigbaar op ‘n kas gelaat word. Drie eksperimenteringskondisies word geskep. In die eerste groep het die fassiliteerder aan die kind gesê dat hy die speelkamer vir ‘n kort rukkie moet verlaat, maar dat die kind met enige van die speelgoed mag speel. Aan die tweede groep kinders is gesê dat hy die vertrek moet verlaat en dat hulle ten tye van sy afwesigheid met enige speelding mag speel behalwe die een op die kas. “As jy daarmee speel sal ek Die derde groep is blootgestel aan die grootste bedriegingsituasie blootgestel. “Ek moet die vertrek verlaat en as ek jou vang dat jy met die speelding op die kas speel, sal ek baie kwaad word en sal ek al my speelgoed vat en jy sal nooit weer daarmee kan speel nie”.

Die teorie van Kognitiewe dissonansie sou voorspel dat die kind in die tweede groep die meeste dissonansie sou beleef. Om dit te verstaan sal ons probeer om in die gedagte-wêreld van die kind in elke groe in te gaan:
a. Geen bedreiging (Groep 1): Ek hou van die speelding op die kas en ek speel gevolglik daarmee: Geen dissonansie.
b. Geweldige bedreiging (Groep 3): Ek hou van die speelding, maar ek sal glad nie daarmee speel nie, want anders loop die man dalk: Baie min dissonansie.
c. Gemiddelde bedreiging (Groep 2): Ek hou van die speelding. Ek speel egter nie daarmee nie. Hoë dissonansie en die noodsaaklikheid om my houding jeens die speelding te verander.
Die eksperiment het bewys dat dit inderdaad die geval was. Na die speeltyd is kinders gevra om weer die speelgoed van goed na minder goed te rangskik. Die kinders in groep 1 en 3 se orde het baie min verskil van hulle oorspronlike oordeel. Die kinders in groep 2 egter, het die verbode speelding laer geklassifiseer. Hulle het nodig gehad om hulle houding ten opsigte van die speelding te verander omdat die bedreiging te min was om ‘n kopskuif nodig te maak.

Die Verwagte Uitkoms
Navorsing in dissonansie het ook getoon dat mense wat ‘n geskiedenis het om op ‘n sekere manier op te treë ‘n verwagting ontwikkel om op dieselfde wyse op te treë, selfs al sou daardie verwagting om die een of ander rede per geleentheid nie bevestig word nie. Die kognitiewe dissonansie wat die persoon as gevolg van hierdie wanbevestingstoestand beleef, mag dan verminder word deur sy/haar gedrag te verander eerder as om die nuwe kognisie te erken.

Verskeie eksperimente is in dié verband gedoen en ‘n aantal baie belangrike afleidings kan gemaak word. XX verduidelik: “Although it is risky to generalize from a few experimental studies to a complex social situation such as the classroom, a few tentative statements can be made. If we convince some of our youths that they are not capable of performing well in school, any evidence to the contrary will arouse dissonance. As we have seen, such youths may reduce or avoid dissonance by making sure that their performance is consistent with their expectations” (xxx)

Die teendeel is natuurlik ook waar. Mense wat ‘n geskiedenis van “sukses” ontwikklel het en wat per geleentheid teleurgestel word sal vanweë die dissonansie in hulle gemoed hulle gedrag aanpas om seker te maak dat kognisie weer herstel word. Die spreekwoord “Aanhouer wen” is dus nie altyd ewe eenvoudige raad nie. Vir ‘n persoon wat nege keer slaag en een keer misluk sal die verandering van gedrag om weer sukses te smaak nodig wees om die dissonansie in sy kop te verwyder. Soortgelyks sal ‘n persoon wat nege mislukkings en een sukses beleef, ongemak veroorsaak en baie persone sal onwillekeurig poog om weer te misluk om die dissonansie te verwyder.

Ander aspekte van kognitiewe dissonansie
Verskeie ander aspekte van dissonansie is oor die jare ondersoek en ‘n magdom gegewens is versamel wat verfynings op Festinger se oorspronklike model aangebring het. Die skopus van hierdie studie laat egter nie ‘n gedetaileerde uiteensetting toe nie. Twe interessante ontdekkings kan egter kortliks genoem word:
a. Verskeie eksperimente het getoon dat wanneer mense ‘n vry keuse het tussen twee redelik gelyke opsies die meeste dissonansie beleef word tydens die proses van keuse-maak. Wanneer ‘n keuse tussen twee alternatiewe egter gemaak is, sal die persoon die gekose keuse al hoe meer positief evalueer teenoor die ongekose keuse. Persone wat byvoorbeeld reeds hulle weddenskappe by perdewedrenne geplaas het, het veel meer selfversekerd oor hulle keuses voorgekom as dié wat nog in die ry gestaan het om hulle weddenskappe te plaas .
b. Ander navorsing is ook gedoen om die graad en invloed van opwekking (arousal) tydens dissonansie vas te stel . Daar is ook onteenseglike bewyse gevind vir die duidelike verhouding tussen alkaholgebruik en beide die prosesse van opwekking en dissonansie. Alkoholgebruik het die ervaring van stres (opwekking) verminder sowel as die ervaring van dissonansie met die gevolg dat gesindheidsverandering minder nodig geag is . Gevolglik kan ons sê dat daar definitiewe psigologiese bewyse is vir die rol van alkahol in die vermindering van kognitiewe dissonansie en gesindheidsverandering: Hoe meer alkahol, hoe minder dissonansie en hoe minder die belang van gesindheidsverandering.

Dissonansie: Beïnvloedende faktore
Ten slotte, is dit nodig om ‘n aantal faktore te noem wat dissonansie (en moontlike gesindheidsverandering) bevorder:
a. Vryheid om te kan kies is seker een van die belangrikste faktore. As iemand ‘n pistool teen jou kop hou en jou beveel om sprinkane te eet, sal jou gesindheid noodwendig verander? Nee. Om geforseer te word om iets te doen is dieselfde as om ‘n groot bedrag betaal te word om iets te doen. Min dissonansie word ervaar en gevolglik is gesindheidsverandering ook nie noodsaaklik nie.
b. Die voor-die-handliggendheid van die uitkoms van my kontra-gesindheidsgedrag is ook ‘n belangrike faktor. As ek iets moet doen waarvan ek nie hou nie, maar ek kan min of geen skadelike gevolge sien nie, sal ek nie noodwendig dissonansie ervaar nie .
c. Wicklund and Brehm (1976) het getoon dat bg. stel kondisies daarop neerkom dat ‘n persoonlik verantwoordelikheid vir die negatiewe gevolg moet aanvaar vir dissonansie om voor te kom. As ek byvoorbeeld kan sê dat ek nie geweet het dat dit of dat sou gebeur het indien ek op ‘n spesifieke wyse optreë nie, sal dissonansie nie voorkom nie.
d. Die graad van verbondenheid (commitment) speel ook ‘n rol. Persone wat uit vrye keuse teen-gesindheidsgedrag toon, ervaar hoë vlakke van dissonansie omdat hulle persoonlik verantwoordelik voel. Persone wat voor ander persone teen-gesindheidsgedrag toon, ervaar ook hoë vlakke van dissonansie omdat hulle voel dat ander mense hulle nou verantwoordelik hou vir hulle gedrag. In bedie gevalle versterk dit die graad van verbondenheid (en volhoubaarheid) tot die teen-gesindheidsgedrag en gepaardgaande gesindheidsvernadering.
e. Die rol van opwekking in die ontwikkeling van dissonansie is reeds na verwys .

IMPLIKASIES VIR BEDIENING IN GEMARGINALISEERDE AREAS
Vergun my by die begin van hierdie laaste afdeling ‘n baie algemene en sekerlik “teologiese” ongeverifiëerde opmerking alvorens ek gaan probeer om meer spesifieke afleidings oor ons tema te maak. Ek wil my verstout om te sê dat die impak van ons ruimtelike en sosiale kartering sowel as die sosio-psigiese prosesse wat daartoe aanleiding gegee het en wat geld ten tye van verandering van kognitiewe oordele op ons kerklike lewe en bediening geweldig onderskat word, veral in dié gevalle waar ons bediening ast’ware oor die grense van ons eie ruimetelike en sosiale kaarte moet treë. Uit hoofde van die verskie rolle wat ek in die kerk en in para-kerklike organisasies moet vervul mbt ons bediening aan mense van ander kulture en sosio-ekonomiese stande as dié wat meestal gebruik word as die “norm”-teikengroep in kerklike en teologiese opleiding, is dit heel duidelik dat die teologie van die kerk heel dikwels nie die implikasies van veral die sosiale sielkunde, maar ook die pedagogiese- en selfs ontwikkelingsielkunde deurtrek tot die praktyk nie.

1. RUIMTELIKE EN SOSIALE KARTERING
a. Die gemiddelde ruimtelike en sosiale kaart van lidmate van ‘n voorstedelike gemeente in Pretoria, byvoorbeeld, laat heel dikwels min ruimte vir ‘n persoonlike bediening aan mense in weerlose gemeenskappe elders. Meer affluente Christene in voorstede deel heel dikwels ‘n soortgelyke ruimtelike en sosiale kaart. Indiwidue wat wel betrokke raak by dié soort bediening is gewoonlik ‘n uitsondering op die reël. Hierdie ruimtelike en sosiale kaart kan sluit beide die mikro-kaart van die gemeente (nabye gemeenskap) sowel as dié van die res van die stad in (en wat heel dikwels soortgelyk was aan ander soortgelyke sosio-ekonomiese areas in die stad). Ek was predikant in 'n noordelike vorstedelike gemeente in Pretoria aan die einde van die 90’s en kan miskien met ‘n paar algemene gewaarwordinge in dié verband volstaan:
• Lidmate het oor die algemeen nie met swart mense gesosialiseer nie.
• Homoseksuele mense het geen gesig in die gemeente gehad nie.
• Manlike persone is oorwegend in leierskapsposisies gekies.
• Arm mense is kognitief gelokaliseer in sekere areas van ons stad en indien uitreike na hierdie mense plaasgevind het, was dit gewoonlik op ‘n onpersoonlike wyse, bv. in die aflaai van swak-beplande kospakkies en die “hou van Bybelstudies” vir die mense.
• Arm mense is ook gekarteer volgens konsentriese sirkels. Afrikaanssprekende vroue en kinders was die naaste en swart manlike persone was die vêrste.
• Die mikro-kaart van die gemeente is ook in sosio-ekonomiese areas gekarteer. Ryker mense het teen die berg gebly; swart mense in 'n spesifieke area en laer-inkomste blankes in 'n ander deel, ens.
• Die makro-kaart van die gemeente was meer gevarieerd, maar ‘n paar aspekte is gedeel, bv. die bedreiging van die naby-geleë Soshanguve en Garankua, die algemene verwysing na die “ooste” as die oostelike voorstede van Pretoria , en die vermyding van die middestad.
• “Sukses” was meestal gemeet in terme van die sekuriteit van jou werk, finansiële sekuriteit, die ligging van jou huis, jou motorvoertuig en ander besittings.
• Status is meestal in verband gebring met die graad van tersiêre opleiding maar was ook nou verbind met die graad van sukses wat ‘n persoon gekarakteriseer het.
• Protestantse Christene was oor die algemeen as beter-aangepasde indiwidue beskou as mense van ander godsdienstige agtergronde.
• Die nuwe ANC-regering is oor die algemeen beskou as ‘n “swart” regering vir swart mense en is baie negatief beoordeel.
Die redes vir hierdie kartering is al reeds bespreek. Die implikasie/s hou egter in dat alvorens gewone voorstedelike lidmate persoonlik kan uitreik na alle tipes mense in marginale areas, hierdie ruimtelike- en sosiale kaart onder druk geplaas moet word.

b. Algemene teologiese insette is nie noodwendig die sterkste metode om gesindhede mee te verander nie. Myns insiens, is ons probleem nie dat ons algemene teologie aangepas behoort te word nie. Wie van ons het nie al telke male gepreek oor die teologiese implikasies van die Gelykenis van die Barmhartige Samaritaan of die Ryk jong man nie? Die teologie moet veel eerder spesifiek en geïnkarneer gemaak word.
• Met ‘n spesifieke teologie bedoel ek ‘n teologie wat veel meer aspekte (en areas!) van die lewe opeis as wat tans die geval is. Teologiese studente van die Universiteit van Pretoria word steeds weerhou om in areas buite die tradisionele gemeentelike opset praktykopleiding te ondergaan. Die plek van die kerk word nog steeds primêr verstaan binne die parameters van die gemeente . In hierdie tipe teologie suig aspekte soos armoede en inter-kulturele bediening steeds aan die spreekwoordelike agterspeen.
• Oor ‘n geïnkarneerde teologie is al baie gepraat. Té veel dalk. Uit die insigte van die sosiale sielkunde is dit duidelik dat kognisies wat nie persoonlike ervaring insluit nie op sy slegste tot weinige of geen gesindheidsverandering en op sy beste tot die aanvaarding van die een of ander kognitiewe strategie soos stereotipering lei. ‘n Ware geïnkarneerde teologie behels die persoonlike voorloping van die gemeente-leiers sodat nuwe gedrag gemodelleer kan word op die voorbeeld van die leier asook ‘n persoonlike blootstelling aan kognisies wat uiteindelik kan lei tot die aanvaarding van nuwe, meer gesonde ruimtelike en sosiale kaarte. ‘n Geïnkarneerde teologie sal byvoorbeeld behels dat ‘n gemeente ‘n Sotho-kursus begin vir sy lidmate of dat ‘n dinee gehou moet word waar beide gemeentelede en hawelose mense na uitgenooi word.
Die “uithouvermoë van teorieë” toon ook dat selfs al word mense se idees en persepsies van sake of persone as verkeerd (sondig?) uitgewys, hulle nogtans sal volstaan by hulle idee omdat hulle daaglikse ervaring inligting op so ‘n wyse beskikbaarstel dat dit nie ‘n diepgaande gesindheidsverandering noodsaak nie. Hulle denke is ook daarop ingestel om konsonante kognisies te “soek” om hulle bestaande konstrukte te kan handhaaf en kognitiewe dissonansie te verminder. Die “swak” swart regering, my eie persoonlike geskiedenis met swart mense, die twintig negatiewe berigte in die Beeld oor swart rowers asook my ongeskikte swart baas en die swart bediende se moedswillige weiering om die strykyster op sy plek te bêre, weeg veel swaarder as die dominees se té algemene pleidooi om alle mense ewe lief te hê. Vir hierdie teologie om grond te vat, sal dit voete moet kry wat lidmate blootstel aan nuwe, gesonder kognisies oor “swart” mense. Dit is nou indien die dominees self blootgestel is aan a. sodanige gesonder kognisies, en b. die kaart/e van sy lidmate.

c. Gemeente-leiers is oor die algemeen nie blootgestel aan weerlose mense en –areas nie. Vir ‘n gemeenteleier om voor te stap sal hy/sy bereid moet wees om self blootgestel te word aan dié persone en areas buite sy bekende SSPS. Ek vermoed dat baie dominees self nie veel blootstelling aan weerlose mense en gemeenskappe verwelkom nie behalwe as hy/sy self in so ‘n area arbei. Die eise van gemeente-leraar is van so aard dat dit oorgenoeg ruimte maak vir die proses van kognitiewe dissonansie . Meeste dominees sien nie kans vir meer innerlike konflik nie. Die deurmekaar-krap van sy gemeente se aanvaarde ruimetelike- en sosiale kaart sal net tot groter konflik lei en daarom word dit ook vermy. In baie gevalle deel die dominees die algemene ruimtelike en sosiale kaart van sy lidmate. In baie gevalle egter is dit egter ook nie die geval nie.

d. Gemeente-leiers is baie maal onbewus van die ruimtelike- en sosiale kaarte van hulle lidmate. Een groot rede hiervoor is dat die predikant baie maal in ‘n heeltemal ander sosiale en samelewingsverband leef as sy gemiddelde lidmaat. Sy SSPS lyk anders as dié van sy lidmate. Hulle werk bedags in hoë kompeterende situasies waar kragte soos kompeterende mag en finansiële stabiliteit ‘n baie belangrike fasset van hulle lewe uitmaak. Arm mense word heel dikwels in so ‘n paradigma verstaan as die “lui” deel van die bevolking. As gevolg van hulle sosiale kaarte en doodgewoon besigwees van lidmate word behoeftige mense óf vermy óf op ‘n afstand hanteer deur die gee van ‘n donasie. Predikante en ander gemeentelike leiers sal moet tyd spandeer om die sosiale en ruimtelike kaarte van hulle lidmate te verstaan. Die dominee moet saam met sy polisie-reservis vriend gaan op ‘n Vrydagaand en sien hoe hy die “swartes” beleef wat “ons mense” so “besteel”. Die dominees moet die hoof vra of hy nie vir ‘n week lank net by die skool kan uithang en iets beleef van die soms ingewikkelde (maar baie meer eerlike) SSPS’e van die hoërskoolkinders. Die dominees sal veel leer by sy diaken se kaart indien hy hom ‘n week lank vergesel na sy werksbank by die Yskoraanleg. In informele gesprekke kan die ontwikkeling van persone se kognisie-komplekse beter verstaan word, patrone en kognitiewe strategieë kan aangeteken word en oor die algemeen sal die dominees self kans kry om sy eie kaart te herevalueer.

2. KOGNITIEWE DISSONANSIE
Die belang om ons kerk in die algemeen en ons gemeentes en lidmate in die besonder se gedagtes te verander oor die weerlose gemeenskappe in hulle midde kan nie genoeg beklemtoon word nie. Daar is verskeie redes hoekom dit so noodsaaklik is, maar die vernaamste is seer sekerlik dat die oorgrote meerdeheid van ons Suid Afrikaanse samelewing as “weerloos” geklassifiseer kan word. Indien dit aanvaar word dat Jesus se bediening in hoofsaak gemik was op mense in weerlose situasies, maak dit ‘n redelike sterk saak uit vir ‘n metanoia op dié gebied. Hierdie kopskuif verg veel meer as lippetaal of ‘n uit-die-hoogte bediening aan die “armes” waar ek weinig of geen gesindheid hoef te verander nie. Hierdie kopskuif is ‘n hartskuif, ‘n gesindheidsverandering en dit is in dié sin dat die insigte van die sosiale- en nariewe sielkunde in die algemeen en die teorieë oor kognitiewe dissonansie so betekenisvolkan word.

Die ineenvlegting tussen die teorie van Leon Festinger en al die daaropvolgende verfyning met die wêreld van die godsdiens is nie ‘n nuwe gedagte nie. Baie insigte uit hierdie veld is al gebruik op die beskrywing en voorspelling van gedrag van persone wat aan die een of ander kulte behoort is al vele male gedoen . In hierdie gedeelte gaan ons egter iets nuuts probeer en dit is om seker van die insigte toe te pas op die kerk se oënskynlike onvermoë om betrokke te raak by mense wat nie deel is van die aanvaarbare SSPS nie. Ons sal ook sekere blindekolle en strategieë kan uitwys om gesindheidsverandering ‘n hupstotjie te kan gee.

Festinger se grade van dissonansie is ‘n belangrike faktor in ons denke oor gesindheidsverandering by mense in die algemeen en by lidmate in die besonder. Ons sal moet ruimte maak vir die feit dat sekere mense se kognitiewe konstrukte op ‘n bepaalde wyse ontwikkel het wat dissonansie (en die moontlikheid van gesindheidsverandering) uiters moeilik maak. Die storie van Allan Boesak is ‘n goeie voorbeeld. Die man wat die stootskraper gewerk het, het egter heel moontlik ‘n verhaal met ewe intense persoonlike kognisies wat hom laat optreë op die pynlike wyse. Indien gemeente-leiers ernstig is om gesindheidsveranderinge by gemeentelede te bewerkstellig, sal dit nodig wees om sy mense aan verskeie dissonante kognisies bloot te stel . Kognisies wat persoonlike ervaring insluit is net eenvoudiger sterker as ander.

Die drie moontlikhede van kognisie-veranderings kan as riglyne gebruik word in die verstaan van mense se kognitiewe prosesse mbt veandering. Dit kan ook as ‘n riglyn gebruik word om veranderingstrategië te te kategoriseer.
• Die verandering van kognisies
• Die verandering van die gewig van kognisies
• Die byvoeging van kognisies

Volgens die paradigma van geïnduseerde toestemming kan twee belangrike beginsels afgelei word:
Ten eerste, onderstreep die paradigma weereens die belangrike plek wat persoonlike gedrag in die sisteem van vernuwende denke speel. As ons lidmate kan mobiliseer om self betrokke te raak by die lewens van gemarginaliseerde mense, ontwikkel ons kognitiewe dissonansie. ‘n Persoon voel byvoorbeeld ‘n intense innerlike ongemak wanneer sy/hy optreë op ‘n wyse wat nie strook met haar/sy innerlike oortuiging nie. Vertel die verhaal van jou slaap saam met die hawelose.
Om hierdie dissonansie te verminder sal ‘n persoon sy/haar gesindheid verander, mits sekere voorwaardes geld, soos
die insentief nie te groot is nie....in my geval...
ek die vryheid gegun word om te kan kies...ek kon kies...
ek het die negatiewe gevolge van my daad terdeë besef
ek het ‘n mate van opwekking ervaar (‘n belangrike faktor in die vorming van dissonansie)

Uit die paradigma van lyding-regverdiging het ons ook gesien hoe belangrik dit is om ten minste ‘n mate van lyding te ervaar vir gesindheidsverandering om plaas te vind. Mense wat ‘n minder-aangename ervaring oorleef of oorwin het en vir ander mense daarvan kan vertel, ervaar makliker ‘n verandering van gesindheid. Persoonlike ervaring is natuurlik nie die enigste manier om hierdie lyding te induseer nie. Die krag van die kunste...’n fliek, ‘n gedig ens....skommel ook soms die emosies op só ‘n wyse dat ‘n mate van persoonswroeging ervaar word...

Die paradigma van verwagte uitkoms is ook belangrik vir ons studie omdat dit iets oordra van die verwagte uitkoms wat mense rondom hulleself koester. Mense wat hulleself as redelik suksesvol beleef, sal maklik opstaan na teleurstelling, terwyl mense wat ‘n gesk van mislukkings beleef het, sal na een sukses eerder neig om hulle gedrag aan te pas om weer mislukking te beleef eerder as om ‘n gesindheidsverandering te ondergaan. Dit sê natuurlik ook iets van ons verwagtings van mekaar. Ryk, suksesvolle mense verstaan nie hoekom mense wat chronies “aanjaag” nie die kans vat as hulle die kans kry nie.

No comments: